Boek: Kuifie praat weer Afrikaans

Hergé

Die avonture van Kuifie (Frans: Les Aventures de Tintin et Milou) is een van die bekendste strokiesverhale wat in die twintigste eeu verskyn het en is vandag steeds gewild. Die hoofkarakter van die verhale is die jong Belgiese verslaggewer Kuifie. Saam met sy hond, Spokie, beleef hy verskeie avonture.

Die avonture van Kuifie: Die farao se sigare

In Die farao se sigare onderneem Kuifie en Spokie ʼn bootreis na die Ooste. Tydens die vaart ontmoet hulle die Egiptoloog Filemoon Sikloon. Hy nooi hulle na Kaïro om saam met hom na die graf van die farao Kih-Oskh te gaan soek. Al die vorige geleerdes wat hierdie missie aangepak het, het geheimsinnig verdwyn. Wanneer Kuifie ʼn sigaar met die farao se teken op die etiket vind, wonder hy of die sleutel tot die raaisel dalk daarin opgesluit lê…

Die avonture van Kuifie: Kuifie en die Pikaro’s

In Kuifie en die Pikaro’s word Bianca Castafiore en haar gevolg tydens haar toer deur Suid-Amerika in hegtenis geneem. Sy word daarvan aangekla dat sy die regering van generaal Tapioca omver wil werp. Luidens berigte is Kuifie, kaptein Sardijn en professor Sonneblom ook deel van die sameswering. Tapioca nooi hulle na Tapiocapolis om hulle kant van die saak te stel. Daar gekom, besef hulle dit is ʼn set, maar generaal Alcazar en sy manskappe, die Pikaro’s, kom tot hulle redding, en Kuifie-hulle raak betrokke by Alcazar se rewolusie teen Tapioca.

Die avonture van Kuifie: Die Blou Lotus

In Die Blou Lotus word Kuifie na Sjanghai ontbied, maar die boodskapper word vergiftig voor Kuifie uitvind hoekom. Daar gekom, besef hy sy stryd teen die internasionale dwelmbende, met wie lesers in Die farao se sigare kennis gemaak het, is nog lank nie verby nie. Gelukkig ontmoet hy die jong Chinees Tjang en saam trotseer hulle baie gevare. Groot is Kuifie se verbasing toe hy agterkom dat die baas van die dwelmbende iemand is wat hy ken…

Prys: R130,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ek is nog steeds oor die reekse. Ek weet net nie hoekom die vertalers nie die name van Tintin en Milou behou het nie. Ek was gelukkig om die boeke in Frans te lees en die animasielprente op tv te kyk. Nou op my ou dag het ek gesien dit is op youtube en geniet ek dit weer van vooraf. Maar ja, ek is bly ons Afrikaanse kinders kan ook nou deel in die oulike karakters se avonture.

groenboer ·

Die nuwe vertalings is maar bra vaal vergeleke met die pikante Afrikaanse weergawes waarmee ek grootgeword het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.