Boek: Langenhoven-spookstories kry nuwe asem

CJ Langenhoven

“Ek was mal oor spoke. Eintlik was ek ʼn soort spookwetenskaplike. Oral waar ek gekom het, het ek spookstories bymekaar gemaak. En nou is ek self ʼn spook… kan ʼn mens so gelukkig wees?” – CJ Langenhoven, soos verbeel deur Maartens in Die wandelende geraamte en ander spookstories van CJ Langenhoven.

Die wandelende geraamte en ander spookstories van CJ Langenhoven het ontstaan na aanleiding van ʼn gesoute bibliotekaresse se vreugde oor kinders wat ʼn ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die volwasse afdeling smokkel om in die kinderafdeling voos te lees…

ʼn Paar van Langenhoven se spookverhale is deur Wendy Maartens gekies en hervertel om by die oorspronklike teks aan te sluit, en terselfdertyd ook tot die kind van vandag te spreek.

Maartens sê terwyl sy aan die bundel gewerk het, het sy haar soms verbeel Langenhoven sit in die blou leunstoel langs haar boekrak.

“As hy tevrede was met waarmee ek op daardie tydstip besig was, was daar die gemeenskaplike stilte wat baie woorde op papier soms tussen twee mense bring en… nou en dan, die geur van ʼn pyp wat aangesteek word,” vertel sy.

Langenhoven, ook bekend as “Sagmoedige Neelsie”, was een van Suid-Afrika se grootste denkers, digters en skrywers. Hy was ook ʼn kampvegter vir Afrikaans.

Oor die samesteller

Maartens is ʼn kinderboekskrywer, joernalis, vertaler en dromer. In 2005 het Lena se bottelboom Exclusive Books se “Publisher’s Choice”-lys gehaal en in 2006 het Maartens ʼn eervolle vermelding by die Noma-toekennings ontvang. Sy was ook twee keer ʼn finalis by die ATKV se Veertjie-toekennings: In 2006 vir Lena se Bottelboom en in 2007 vir ʼn rubriek. Ander Protea-titels van haar sluit in: Stories van die see en Sea Stories (met illustrasies deur Marjorie van Heerden, 2016), Kerneels en die Krismisengel en Chris and the Christmas Angel (met illustrasies deur Anneliese Voigt-Peters, 2018) en Die beste verse van Tienie Holloway (met illustrasies van Alida Bothma, 2021).

Oor die illustreerder

Marjorie van Heerden woon in Gordonsbaai. Sedert die publikasie van haar eerste kinderboek in 1983 het daar alreeds meer as 120 boeke wat sy geïllustreer of geskryf/geïllustreer het, in Afrika, Brittanje, Europa, die Ooste, Kanada en die VSA verskyn. Haar werk is in 34 tale vertaal. In 2011 is sy met die WB Mkhize-toekenning bekroon vir die Zoeloe-uitgawe van Lulama’s long way home (Uhambo LukaLulama Olude) (Giraffe Books, 2011) en sy het twee MER-toekennings ontvang vir Nina en Eendjie (Human & Rousseau, 2007) en Goblin Diaries: Apprenticed to the Red Witch (Tafelberg, 2011).

Prys: R200,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.