Boek: Lees dié Jodi Picoult-boeke in Afrikaans

Jodi Picoult

Twee van Jodi Picoult se topverkopers, “Die Belydenis” en “Negentien Minute”, is nou ook in Afrikaans beskikbaar. Dit is deur Daniel Hugo vertaal.

Die Belydenis

Die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur op ’n Amiese plaas in Amerika dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes.

Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat die 18-jarige Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie wat glo die pasgeborene se ma is, vir die moord verantwoordelik is. Katie hou vol: sy het nie die baba vermoor nie.

Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, na familie wat in dieselfde streek woon om haar kop skoon te maak. Haar tannie is verwant aan Katie en kort voor lank stem Ellie teensinnig in om Katie te verdedig.

Ellie word as Katie se toesighouer aangestel terwyl sy op borgtog is en moet boonop by die Fishers intrek. Om Katie te verdedig, moet Ellie haar nie net diep ingrawe in ’n wêreld wat radikaal van haar eie verskil nie, maar ook ’n manier vind om Katie volgens háár verwysingsraamwerk te verstaan.

Wanneer ’n man uit haar verlede weer sy verskyning maak, word Ellie terselfdertyd gedwing om haar eie vrese en begeertes te konfronteer.

Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue … en een geheim.

Negentien Minute

Nadat hy jare lank wreed verbaal en fisiek deur klasmaats geboelie is, knak die 17-jarige Peter Houghton een oggend. Binne slegs negentien minute sterf tien inwoners van die dorp Sterling in Amerika.

Die geskokte gemeenskap is vasberade dat geregtigheid moet geskied. Soos die hofsaak ontvou en Peter getuienis lewer, kom dit egter aan die lig dat die inwoners van Sterling ’n rol daarin gespeel het om ’n innemende, liefdevolle seun in ’n massamoordenaar te laat verander.

In ’n era waarin boeliegedrag toenemend ’n probleem is, hou hierdie meesleurende boek talle insigte in vir ouers, onderwysers en tieners.

Negentien Minute is die tweede fondslystitel van Jodi Picoult wat in Afrikaans vertaal word. Die Belydenis het in Februarie vanjaar verskyn en op die topverkoperlyste geboer. Haar jongste boek is in Oktober op die rakke en word ook deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee.

Luister ook hier na ‘n opsomming van Negentien Minute

Oor die skrywer

Jodi Picoult is ’n gewilde en geliefde skrywer van etlike topverkopers, waaronder My Sister’s KeeperNineteen MinutesThe Storyteller en Small Great Things. Sowat 40 miljoen eksemplare van haar boeke is tans wêreldwyd in druk. Meer as 25 romans het al uit haar pen verskyn en haar werk is reeds in 34 tale vertaal. My Sister’s Keeper is ook in ’n rolprent omskep. Picoult is al verskeie kere bekroon, onder meer met die New England Book Award. Sy woon in New Hampshire in Amerika saam met haar man en drie kinders.

Oor die vertaler

Daniel Hugo is ’n bekroonde vertaler, digter en taalpraktisyn. Hy is al twee keer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer vir sy vertalings uit Nederlands na Afrikaans.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Jonathan Ball Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.