Boek: Legkaart van ʼn jong lewe

Dolf van Niekerk

Ter viering van Dolf van Niekerk se negentigste verjaarsdag verskyn hier ʼn versameling filosofiese, bepeinsende en besinnende essays uit die pen van een van Afrikaans se meesterskrywers. Vanaf sy vroegste gewaarwordinge tot sy kennismaking met groot filosowe soos Nietzsche, Kant en Hegel op universiteit en in sy daaglikse handel en wandel daarna: altyd maar bly die bewustheid van ʼn onsigbare “iets” by hierdie aristokratiese gees – en ʼn soeke na ’n beter verstaan van dít wat “die sterretyd en die menstyd aan mekaar verbind”.

In 48 essays wat die biografiese tydperk tussen ongeveer sy vyfde en twintigste lewensjaar dek, skryf ʼn deurleefde, wyse Van Niekerk oor sy vroegste herinnerings aan sy geboortedorp, sy gesin en sy helderste herinnerings aan die plekke en mense wat hom gevorm het tot die mens wat hy geword het. Want, soos wat hy in die verhaal “Die skinkbord” skryf: Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word.

Oor die outeur

Rudolf Johannes (Dolf) van Niekerk is op 22 Februarie 1929 in Edenburg in die Vrystaat gebore en het diep spore in die Suid-Afrikaanse letterkunde, uitsaaiwese én akademie getrap. As skrywer van poësie, kortverhale, jeugverhale en radiodramas word hy met etlike letterkundige pryse bekroon, onder meer die Eugène Marais-prys vir sy bundel Skepsels (1964) en sowel die Scheepers- as die MER-pryse vir jeuglektuur vir Die haasvanger (1986).

Hoewel hy sy professionele loopbaan in die uitsaaiwese begin het as omroeper vir die SAUK, lei sy belangstelling in die filosofie sowel as in landbou tot verdere studie in wysbegeerte met ʼn doktorale proefskrif getiteld “Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse Bodembenuttingsituasie: ʼn kultuurfilosofiese studie”. In 1978 word hy direkteur van die Direktoraat Landbou-inligting – ʼn pos wat hy beklee tot met sy aftrede in 1994. Ná sy aftrede raak hy ook betrokke by die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria en by die Versindaba in Stellenbosch.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R180,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Kan nie wag om dit aan te skaf nie- dankie vir die laat-weet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.