Boek: Liefdesromans vir jou boekrak

Tosca de Villiers

In ʼn tyd van virusse en tuimelende ekonomieë is dit lekker om weg te breek na ʼn wêreld waar daar vreugde, hoop en ʼn gelukkige einde is.

Emma se somer

Emma moet onvoorsiens ʼn paar maande in haar geboorteland, Suid-Afrika, deurbring. Haar kollegas behandel haar glad nie soos die ervare ouditeur wat sy is nie, maar verwag dat sy die charismatiese Italianer, Roberto, se boekhouding in orde kry.

In Giovanni’s se kombuis leer Emma die passievolle sy van Roberto ken. Die warmbloedige Italianer sal sy ten alle koste moet vermy as sy haar hart uit die moeilikheid wil hou, want saam met sy risotto en pasta voer hy haar ook bietjies-bietjies liefde.

Totdat sy agterkom hy kook die boeke, of is sy op die verkeerde spoor?

Terug in Engeland besef sy sy hoort nie meer daar nie, want sy het te verknog geraak aan die sonskyn en somer van haar eie land – en die sjarme van die baas van Giovanni’s.

Sprokie vir Maryke

Maryke, met haar vurige geaardheid en bos rooi hare, weet maar al te goed dat ʼn tamatiekissie nie ʼn sitkamerstoel word nie. Sy het immers in die kinderhuis grootgeword.

Die laaste ding wat sy op die vooraand van haar vertrek na Kigali nodig het, is dat die aantreklike dokter, Leon Boshof, haar lewe deurmekaar krap – en haar verbied om koffie te drink! Nare ou wolf.

Maryke het haar loopbaan as internasionaal erkende fotograaf met harde werk en deursettingsvermoë gevestig en sy gaan hom nie toelaat om haar van koers af te dwing nie. Maar haar vennoot by die fotografieskool keur Leon se aansoek om in Maryke se klas te wees goed. Sy sal die man maar moet verduur.

Gaandeweg kom sy agter sy geniet Leon se geselskap en sien daarna uit om tyd saam met hom deur te bring.

Is dit net in sprokies waar die wolf sy rooikoppie betower – of nie?

Oor die skrywer

Tosca de Villiers het in die grasvlaktes van die Vrystaat grootgeword. Sy het haar BCom-graad en onderwysdiploma aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Nadat sy vir ’n paar jaar skoolgehou het, het sy haar vlerke gesprei en Kaapstad toe verhuis waar sy by die parlement begin werk het. Ná haar eerste kennismaking met Pretoria se jakarandabome besluit sy om te bly.

Meer as twintig van haar kortverhale het in tydskrifte verskyn, die meeste daarvan in Vrouekeur. Sy reis graag en artikels oor haar wedervaringe, waarvoor sy self die foto’s neem, het al in verskeie dagblaaie en tydskrifte verskyn.

Sy is ʼn lid van die Romance Writers of South Africa en een van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se taalwerkers.

As sy nie skryf nie, geniet sy dit om te lees, kos te maak en foto’s te neem.

Genre: Liefdesroman
Uitgewer: MadammeZ Uitgewers
Prys: R150,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke. Die e-boeke is tot einde Mei gratis op Amazon Unlimited beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae