Boek: Losprys

Martin Steyn

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ʼn vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ʼn kind s’n. Dit is egter presies wat hy kry; dit is boonop ʼn ontvoering vir ʼn losprys, ʼn hoë-profielsaak, dus. Die desperate Amerikaanse ouers is aan die een kant en die ambisieuse kaptein Lubambo druk aan die ander kant. Almal wil resultate hê.

Intussen trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in Llandudno in, adjudant Karla Blanckenberg in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak – en te verbreek – kan sy net wag.

Die roman fokus op twee bene: die naspeur van leidrade, getuies en verdagtes, deur die oë van adjudant Enzo Ariefdien van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid, en die onderhandeling met die ontvoerders deur adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid.

Kort voor lank staar elkeen van die rolspelers ʼn klipharde waarheid in die oë: ryk kinders wat altyd voorkeurbehandeling kry wanneer hulle wegraak. Die einde sal jou in die maag skop.

Soos met sy vorige romans het Martin Steyn met die mense gaan praat wat regtig sulke sake ondersoek, insluitend speurders en onderhandelaars. Hy het geloop waar sy karakters loop, van Houtbaai en Imizamo Yethu tot Mitchells Plain. Dit gee die verhaal ʼn grinterige realisme.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R295,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.