Boek: ‘Lukas bou ʼn superkar’ – Peti Troskie

Wat kry jy as jy die volgende bymekaarsit? Een Lukas, ʼn spul blokkies, een beste maat, ʼn boelie, ʼn kwaai juffrou en ʼn verlore wiskundeboek? ʼn Superkar!

Lukas bou ʼn superkar is deur Peti Troskie geskryf en deur Hjalmar Pretorius geïllustreer. Dit het pas by Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskyn en is geskik vir kinders nege jaar en ouer.

Oor die skrywer

Behalwe dat sy jare in die restaurant en kosbedryf gewerk het, was en is Peti Troskie passievol oor stories en skryfwerk. Troskie het ʼn BA-graad in Engelse letterkunde en Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch, ʼn honneursgraad in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika en ʼn meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Benewens haar studies in die letterkunde het Troskie ʼn sertifikaat as traumaberader by die Suid-Afrikaanse Kollege van Toegepaste Sielkunde behaal. Deur al haar reise, studies, borde balanseer en potte roer, het Troskie altyd geskryf: gedigte, kortverhale, kosverhale en stories vir kinders.

Oor die illustreerder

Hjalmar Pretorius is ʼn vryskut- grafiese ontwerper en -illustreerder. In 2010 het hy ʼn BA-graad in grafiese ontwerp aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom voltooi. Ná twee jaar van blootstelling aan kreatiewe agentskappe in ʼn groot stad het Hjalmar en sy toe swanger vrou teruggekeer na haar tuisdorp. Daar het hulle ʼn boetiekkreatieweagentskap begin. Saam het hulle gesogte pryse verower vir hul werk, onder meer ʼn paar Loeries. Hjalmar se gunstelingtydverdryf is om homself te verloor in ʼn illustrasie en om gehaltetyd met sy familie deur te bring.

Prys: R145,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.