Boek: ‘Mal Hansie en ander verhale’ – Audrey Blignault

Audrey Bettie Blignault

In ’n bestek van 40 jaar het Audrey Blignault tien bundels essays gepubliseer. In Die Blye dae van 1965 verskyn die eerste volwaardige vertelling tussen die essays, “Mal Hansie”. Daarna word dié soort tekste talryker, veral in Die plesierboom (1967) en Die rooi granaat (1970).

Mal Hansie en ander verhale bied vir die eerste keer hierdie gewilde en ontroerende vertellinge in een band. Dit is ’n volwassene wat veral terugkyk op haar jeug en dan ’n kind aan die woord stel: ’n meisietjie wat nie kan aanvaar haar oupa is dood nie, wat ’n baie ongeseënde Kersfees beleef, of deur skuldgevoelens geteister word toe ’n pestilensie van ’n buurseun hom byna morsdood uit ’n pruimboom val. Die kind ervaar gesinsverbrokkeling, liefdesarmoede en die wanhopige verset van ’n onvriendelike oom teen ouderdom en aftakeling. Maar ook die verwondering wanneer ’n seun op ’n reënerige oggend so anders en belangrik vir haar word.

Dit is verhale wat, in Audrey Blignault se woorde, vertel “van die enigste spoor wat nie vergaan nie – die spoor wat een mens laat op die hart van ’n ander”.

Oor die skrywer

Audrey Bettie Blignault (née Swart) is op 6 Julie 1916 op Bredasdorp gebore. Sy het in 1933 op dié dorp matriek behaal en Afrikaans-letterkunde gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, asook ’n Sekondêre Onderwysdiploma behaal en in 1945 die redaktrise geword van Die Huisvrou en later van Die Naweekpos. Sy het ook sedert 1946 die SAUK se Vrouerubriek-program behartig en sedert 1950 was sy ’n rubriekskrywer vir Sarie. In 1955 het haar eerste boek verskyn: In klein maat: Uit die dagboek van ’n vrou, ’n keur van haar beste bydraes in Sarie tot op daardie tydstip. Blignault het die Eugène Marais-prys in 1961 vir In klein maat en Die vrolike lied ontvang.

Blignault het haar dekades lank vir die bevordering van leeskringe landwyd beywer. In 1965 is sy met die WA Hofmeyr-prys bekroon vir Met ligter tred. Sy het ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang asook die Italiaanse Adelaide Ristori-gedenktoekenning vir haar kulturele bydrae, en boonop in 1982 ’n dekorasie vir voortreflike diens van die regering. Blignault is op 1 Oktober 2008 in Kaapstad oorlede. Audrey Blignault: Uit die dagboek van ’n vrou wat in 2009 by Tafelberg verskyn, is ’n “outobiografie” saamgestel deur haar dogter, Marié Heese.

Prys: R170,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die e-boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elmarie

Moeite werd om aan te skaf! Altyd-lees stories