Boek: ‘Man op ’n fiets êrens heen’ – Frederik de Jager

Frederik de Jager

In Man op ’n fiets êrens heen, ’n kortverhaalbundel deur Frederik de Jager, word mense se stories op die voorgrond geplaas. Dit is fyngetekende portretstudies waarmee ’n verskeidenheid lesers kan vereenselwig: Van Jan Rabie, die enigste dogtertjie op ’n seunskoolbus, Mal Marina die klawerkoningin tot die seun op die speelgrond wat so stip kon kyk en sy laerskoolvriend die aksieheld. Soms is die onderwerp die skrywer self, die skaam seun wat Sartre se selfbewustheid as bewustheid verstaan en die een wat weier om die klavierspelende sissie te wees. De Jager se skryfwerk is dus tydloos en universeel.

Die skrywer het ’n fyn oog en ’n slag met die woord. Soos Dana Snyman kan hy ’n emotiewe snaar raaktokkel en nostalgie opwek. De Jager is egter eerder prosaïs as volksverteller.

Kortverhale wat in Man op ’n fiets êrens heen verskyn is raak woordprente wat die uitsonderlikheid van gewone mense vasvang, met deernis, humor en ’n skeut hartseer. Op een na het al hierdie stukke van 2015 tot 2020 in Vrouekeur verskyn as aflewerings in die rubriek “Mense onderweg”. Die laaste, langer stuk was ook in Vrouekeur, maar as alleenstaande artikel.

Lesers van kortverhale en rubrieke, mense wat hulle verkneukel in woordprente en uitsonderlike Afrikaans, van stories wat deernis wek en geloof in die mensdom, sal hierby aanklank vind.

Oor die skrywer

De Jager was voorheen ʼn taalonderwyser, uitgewer en redakteur. Hy was betrokke by JL van Schaik, Tafelberg, Queillerie, African Sun Media, Umuzi en Penguin South Africa. Oor die jare was hy uitgewer van ʼn groot aantal bekroonde skrywers. Tussendeur was hy artikelskrywer, resensent, vervaardiger van dokumentêre TV-programme, keurder en beoordelaar van onder meer die M-Net Literêre Toekenning en kykNET-Rapport Boekpryse. Hy is betrokke by skryfskole, onder meer op die Griekse eiland Lesbos waar hy woon.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by
Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.