Boek: Man sonder weerga

Bets Smith

Bets Smith is een van Afrikaans se gevestigde skrywers. Behalwe vir romanses, skryf sy ook spanningsverhale.

Hierdie omnibus is ʼn samestelling van drie van Bets se vorige Romanzas, Die towerformule, Liefste Valentyn en Engel sonder vlerke. Al drie verhale het ʼn hospitaal-, of mediese agtergrond.

Die towerformule:

Esti se nuwe huisbaas op die Noord-Kaapse dorpie verwar haar. Is Bernhard Ehmke die beer, wat hom oor vroue ontferm, of die wolf, wat harte verorber? Maar beer of wolf, dié dokter sal haar nie ook meesleur nie.

Liefste Valentyn:

Elvira vermoed lankal Marius gebruik haar. Die hospitaalgange dreun oor hom en die baas se dogter. Reuel, die nuwe chirurg, wil Marius jaloers maak, en Elvira wonder – is sy verpletter? Of dalk verlig?

Engel sonder vlerke:

Minette se laaste studiejaar ontaard in ʼn nagmerrie toe sy self moet sorg vir elke sent wat sy benodig. Sy waardeer beslis nie die enigmatiese dokter Hugo Storm se ongevraagde inmenging in haar lewe – of haar hart – nie.

Oor die outeur

Bets Smith is haar lewe lank ʼn ywerige leser van veral spanningsverhale en romanses. Tydens haar jare in die onderwys, lei hierdie leeslus tot ʼn deeltydse skryfloopbaan. In 1996 stuur sy haar eerste manuskrip aan JP van der Walt Uitgewers en haar eerste spanningsroman, By Omdraai Verby, verskyn in 1997. Daarna konsentreer sy op romanses wat dikwels ʼn spanningselement bevat.

Sedertdien het Bets 25 boeke geskryf: 18 romanses, twee historiese liefdesromans, een SuperRomanza en vier romantiese spanningsromans. Bets was met Die verste ster een van drie finaliste vir die eerste ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses in 2008.

Aan die einde van 2016 tree sy uit die onderwys om voltyds te skryf en werk tans aan haar volgende spanningsroman.

Bets is in 1980 getroud met Pieter Smith en hulle bly sedertdien in Witrivier waar die laeveld van Mpumalanga skryfinspirasie bied en ook dien as agtergrond vir ’n hele paar van haar boeke.

Sy is aktief betrokke by die gemeenskap in die Nelspruit/Witrivier-omgewing en ontvang in 2016 die VLU van Mpumalanga se toekenning vir Skrywer van die Jaar. Sy is ook in 2016 een van die mede-aanbieders by die ATKV se Skryfskool vir romanseskrywers by NWU.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R225,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.