Boek: Maties en Afrikaans

Maties en Afrikaans voorbladPieter Kapp

Sedert die totstandkoming van die Universiteit van Stellenbosch het ’n noue verband met Afrikaans bestaan. Die behoefte aan ’n tersiêre inrigting met Afrikaans/Nederlands as voertaal was immers die vernaamste enkele rede vir die ontstaan van dié universiteit. In die 1990’s het Afrikaans as voertaal by tersiêre instellings toenemend onder druk gekom, en Stellenbosch het nie die veranderende sienings en hewige debatte oor die rol van Afrikaans vrygespring nie.

In 2002 het dié debat oor Afrikaans op Stellenbosch tot die openbare terrein toegetree toe Die Burger in ’n prominente voorbladberig die US se Konvokasie se kritiek op die voorgestelde nuwe taalbeleid van die Universiteit aangekondig het. ’n Komitee het aanbeveel dat US nie meer net ’n Afrikaanse universiteit moet wees nie, maar ’n meertalige universiteit wat Afrikaans bevorder. Die Konvokasie het die teenoorgestelde aanbeveel: US moet ’n Afrikaanse universiteit wees wat meertaligheid bevorder.

Dié debat het spoedig uitgekring en verskillende bevolkingsgroepe oor die hele land betrek. Die taalhistorikus Jaap Steyn het daarna verwys as die vyfde groot taaldebat oor die plek en rol van Afrikaans. (Die tweede van hierdie vyf debatte het ook op Stellenbosch afgespeel, in besonder tussen 1905 en 1918).

Aan die hand van uitgebreide dokumentasie wat korrespondensie, e-posbriewe en koerantartikels insluit, teken die skrywer die verhaal van Afrikaans op Stellenbosch op en bespreek die taaldebat van verskillende kante en vra ook indringende vrae oor die manier waarop die taalkwessie in die toekoms hanteer behoort te word.

Oor die outeur:
Pieter Kapp is emeritus-professor in Geskiedenis en tans navorsingsgenoot aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy mees onlangse kultuurhistoriese publikasie is die honderdjarige geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2009). Hy ontvang in 2010 die Stalsprys vir Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Uitgewer: Protea
Prys: R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.