Boek: ‘Middernag’ – Sidney Gilroy

Sidney Gilroy

Bloemfonteinse speurder Sollie Mthembu en sy vrou, Nyandi, verwag hul tweede baba. Soos Naledi in haar buik groei, groei Nyandi se inkopielys dag tot dag. Terwyl Sollie planne beraam om naweekuitstappies na Mimosa Mall met sy kredietkaart te ontduik, sluip daar snags ’n psigopaat deur die strate van Harrismith wat kleuters met roomyse uit hul ouerhuise weglok en ontvoer.

​Wanneer die oorskot van ’n verminkte vierjarige in ’n Tutti Fruitti-roomyskarretjie in die oggendure aan die voet van Platberg ontdek word, besluit kaptein Brummels om Parkweg se bulhond saam te sleep vir die ondersoek. Sollie lyk dalk na ’n bedeesde ou wat op die vreemdste tye oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie.

Sidney Gilroy se debuutroman, Klikbek, is met groot lof deur resensente en krimi-lesers ontvang. Sy tweede roman, Middernag, is ’n broeiende riller met onvergeetlike karakters wat onlangs by Human & Rousseau, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskyn het.

Oor die skrywer

Gilroy is in 1980 op Virginia gebore. Hy en sy familie het later na Harrismith in die Oos-Vrystaat verhuis en hy het in 1998 in Newcastle, Natal, sy matriekjaar voltooi.

Gilroy het by die Universiteit van Pretoria studeer en in 2001 sy loopbaan in projekbestuur in die ingenieursbedryf begin. Hy het al in Europa en Sentraal- en Noord-Afrika gewerk.

Gilroy het in 2015 begin kortverhale skryf, waarvan sommige bekroon en gepubliseer is. In 2019 het Klikbek, sy debuutroman vir volwassenes, by Human & Rousseau verskyn en in dieselfde jaar is van Gilroy se kortverhale in ’n jeugbundel gepubliseer.

Prys: R300,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.