Boek: Moeps die ster, toeris

Aaron Blabey

Moeps die mopshond se aanhangers sal gaande wees oor dié lekkerlag rympiesboeke wat pas verskyn het.

Moeps die ster
Die wêreld se mees selfgesentreerde mopshond neem aan ’n prettige fotosessie deel. Hy trek allerhande lawwe kostuums aan en dans rond – hy wil graag die ster van die dag wees. Maar dan sien die fotograaf Worsie raak. Moeps is nie juis bly daaroor dat Worsie die kollig steel nie en probeer alles om sy sterstatus terug te kry!

Moeps die toeris
Moeps gaan saam op reis, maar dit was dalk nie die beste idee om hom saam te neem nie. Oral waar dié stoute mopshond gaan, veroorsaak hy chaos! Hy sit beslis nie sy beste pootjie voor nie. Maar soos die gesegde lui: Elke hond kry sy dag…

Moeps die ster en Moeps die toeris is deur Aaron Blabey geskryf en deur Jaco Jacobs vertaal. Dit het pas by Protea Boekhuis verskyn en is geskik vir kinders tussen drie en agt jaar. Nog boeke in die Moeps-reeks is Moeps die mops, Moeps die skelm en Moeps die wenner.

Oor die outeur

Blabey is van Australië en is die skrywer en illustreerder van ʼn hele klomp gewilde kinderboeke, onder andere twee topverkoperreekse, Pig the Pug en Bad Guys. Albei dié reekse is reeds in baie tale vertaal en in meer as 25 lande uitgegee. Aaron het ʼn stapel vol pryse ingepalm, o.a. die INDIE Book Award for Children’s Book of the Year, Book of the Year-toekenning, twee Australian Book Design-toekennings, vier KOALA-toekennings en hy hou die titel van Australiese Literatuurambassadeur. Hy woon in Sydney.

Prys: R160,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.