[Boek] Monstermaan: Wat borrel in die pot?

9781432304218 Monstermaan Wat Borrel in die Pot - Louise van Niekerk LRDie Monstermaan-reeks is (op openbare aanvraag) weer in druk! Met die heruitgawe van die eerste boek in dié spannende reeks kan kinders weer lekker bang word, baie bang word.

Die Monstermaan-reeks was ’n wegholsukses toe dit vir die eerste keer in die negentigerjare verskyn het.

In die eerste boek, Wat borrel in die pot? bly daar al weer ’n nuwe inwoner in die huis langs Niël-hulle. Meneer Katz is ’n taksidermis – iemand wat diere slag en opstop. En daar gaan aaklige dinge aan by die huis met die torinkies. Meneer Katz is gevaarlik. Niël het met sy eie oë gesien hoe hy ’n kat verwurg!

Almal dink Niël se verbeelding is weer op hol. Maar as dit sy verbeelding is, wonder Niël hoekom troeteldiere ewe skielik verdwyn; wat die man heeldag by die DBV soek en wat gedurig in die groot, swart pot op sy stoof borrel?

* Die leser sal kan identifiseer met die hoofkarakter – ‘n kind wat weet van ‘n gruwel maar omring word deur grootmense wat hom nie glo nie.
* Die taalgebruik is eietyds en die situasies geloofwaardig.
* Die reeks is deurgaans opvoedkundig verantwoord sonder om ooit prekerig of didakties te wees.
* Dit is een van ‘n reeks boeke waarvan kinders almal sal wil lees.

Oor die skrywer:
Louis van Niekerk is eintlik Louise van Niekerk wat ook die gewilde reeks, Reënboogrant Tieners geskryf het. Sy het Sielkunde studeer, vir jare gewerk met kinders wat minimale breindisfunksie het, klas gegee vir studente en deurgaans bly skryf vir die radio, tydskrifte en televisie. Sy het ook ‘n dramaskool gehad. Deesdae vervaardig sy programme vir DTV – televisie vir dowe mense.

Uitgewer: Struik Kinders
Prys: R90-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.