Boek: Monstersaad

monstersaad-voorblad.jpgMadelein Rust

Monstersaad is ’n rykgeskakeerde, veelvlakkige sielkundige riller. Daar is verskeie storielyne wat ineengevleg word.

Renata Malan is ’n forensiese sielkundige, die erfgenaam van ’n man wat haar as proefkonyn gebruik het. Haar biologiese pa is ’n veroordeelde reeksmoordenaar.

Verward en deurmekaar, gaan studeer Renata sielkunde om haarself te verstaan, net om te leer dat sy dit nooit op haar eie sal regkry nie. Sy leer wel heelwat van kriminele en hulle denkpatrone – stam sy nie immers van ’n berugte moordenaar af nie?

Wanneer ons Renata leer ken, is sy ’n vennoot in Malan en Coetsee Privaatondersoeke. Hulle word genader om die skynbare selfmoord van ’n sewentienjarige meisie, Melissa Verhoef, te ondersoek. Aanvanklik dink Renata hulle mors bloot tyd en geld – die kind het inderdaad selfmoord gepleeg. Dan kyk sy dieper en besef alles is nie so eenvoudig soos dit lyk nie.

Soos Renata dieper delf in Melissa Verhoef se dood, krap sy ook ou rowe in haar eie gemoed oop.

Sy bloei teen die einde van die boek, op vele maniere.

Dit is ’n uiteindelik ’n donker boek, maar daar is ongetwyfeld hoop teen die einde.

Die skrywer en kritikus, Alta Cloete, sê oor Madelein Rust se debuut, Die 13de kaart: “Die verhaal lewe met ’n hele aantal interessante, oortuigende newekarakters wat menslikheid en egtheid in die milieu van wreedheid en moord indra.”

Inderdaad. Monstersaad beloof om nóg meer vir Madelein Rust se loopbaan te beteken as haar debuut.

Oor die skrywer

Madelein Rust is ’n sakebedryfspesialis wat in Johannesburg woon.

Haar opleiding as mediese skrywer en haar kwalifikasie in die bedryfsielkunde rus haar toe met die kennis om naelbyters te skep wat diep in die mens se psige delf.

Haar debuutroman, Die 13de kaart (LAPA Uitgewers), spandeer agt weke op die Nielsen topverkoperlys en oes vele lofprysinge in van verskeie resensente.

Madri Victor, oud-redakteur van Populêre Fiksie by NB Uitgewers skryf: “Hierdie sielkundige misdaadroman is naelbytlekkerte. Mag Die 13de kaart slegs die begin van Belia Bell en Madelein Rust wees.”

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R219.99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.