Boek: Moord per suurlemoen

moord per suurlemoen

Jelleke Wierenga

Die tienertweeling, Bruno, met sy vlymskerp sin vir humor en sy hiperboliese uitkyk op alles, en sy dramatiese rooikopsus, Brunhilde, wat weer vriend en vyand kan manipuleer én kan laat swymel, vorm ’n gedugte kombinasie. Hulle getroue vriend, Ben – boonop verlief op Brunhilde – help hul vlug met ’n motorfiets, omdat hulle die buurvrou per abuis “doodgegooi” het. In twee dae speel die driestuks etlike rolle, soos die skreeusnaakse vlug en situasies dit van hulle vereis.

En boonop kruis hulle pad met dwelmboewe.

Hierdie verhaal het sy oorsprong in ’n ware gebeurtenis: ’n suurlemoengeveg tussen die skrywer en ’n destydse buurvrou oor die bure se verduiwelse blaffende brakke. Die hoofkarakters in die storie, die tweeling Bruno en Brunhilde, maak hul debuut in die boek Kat in die pan vir die Fransman, wenner van die Maskew Miller Longman Letterkundeprys vir Afrikaans in 2010.

Die boek se sterk punt is die verfrissende humor en vernuftige taalgebruik wat enduit gehandhaaf word. Die skrywer oortuig met die ontginning van oordrywing, spesifiek met die intelligente Bruno as fokalisator. Bruno se selfspot, asook sy grootmenstaal, die oordrewe reaksies en die “kamma volwassenheid” van hierdie anderse tweeling skep kostelike situasies waar die ironie nie uitbly nie. Die amusante liefde-haat-verhouding tussen die tweeling dra ook hiertoe by.

Oor die outeur:
Jelleke Wierenga het die graad BA (Hons) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal en daarna by Beeld gewerk as onder andere onderwysberiggewer en nuusredakteur (Pretoria-kantoor). Ná ’n kort kennismaking met die burokrasie via die WNNR in Pretoria het sy ’n opvou-woonwa aangeskaf en Kaap toe gevlug. Sy was vir twee jaar artikelskrywer by die tydskrif Sarie in Kaapstad, waarna sy bedank het om ’n vryskutter te word. Sedertdien doen sy enigiets wat met die Afrikaanse woord te doen het – van skoolboeke skryf tot die aanprysing van linnegoed in kataloguskopie.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R140-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.