Boek: ‘Murasie’ – Chanette Paul

Chanette Paul

Moles is nie ongekend op Verlatenfontein nie. Moord ook nie. Inteendeel.

Die Strandveld loop dik van die stories. Veral stories oor Verlatenfontein en die tyd toe die Brewisse daar gebly het. Oor Bert Brewis en sy humeur en oor sy beeldskone Engelse vrou. Ook oor hulle twee dogters – die oudste te vaal om hubaar te wees, die jongste ʼn bottende skoonheid. En oor die woede wat so sterk deur die gene van hierdie luisterryke, vooraanstaande familie loop.

Ras Erasmus ken feitlik elkeen van hierdie Verlatenfontein-stories soos oorvertel deur sy ouma Kate. Op haar doodsbed laat sy hom drie beloftes aflê. Die kans doen hom voor om hierdie beloftes na te kom toe hy ʼn kwotasie moet uitwerk vir die restourasie van die opstal op Verlatenfontein nadat dit vir die vierde keer in 120 jaar net halfpad afbrand – raaiselagtig genoeg, telkens op ʼn betekenisvolle datum.

Maar hy het nie rekening gehou daarmee dat daar ʼn huurpag op ʼn gedeelte van die plaas bestaan nie. Die huurpag is duur gekoop – nie soseer met geld nie, maar met ʼn veel duurder kommoditeit. Eers toe Georgie Rabie Verlatenfontein toe moet vlug ná ʼn twiet wat haar baie suur bekom het, hoor sy wat die ware storie is agter die huurpag wat haar peetma hou. ʼn Huurpag waaragter Ras Erasmus aan is, en nie net hy nie.

Murasie kom uit die pen van Chanette Paul en die boek word deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Oor die skrywer

Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ʼn sprokie wat sy op 16-jarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ʼn kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R350,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nommer 7 ·

Die opskrif se^ “Murasie”, maar op die boek se voorblad staan “Muragie”. Wat is dit nou?

Janice du Plessis ·

Dagsê Nommer 7

Dankie vir jou kommentaar.
Ons kan bevestig dat die boek se titel wel “Murasie” en nie “Muragie” is nie. Dit is ook so op die uitgewer se webwerf aangedui.
Groetnis
Janice nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.