Boek: ‘Nagjagter’ – Jan Vermeulen

Jan Vermeulen

Prys: R270,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

Die Holy Hunchback-vampierjagter glo hy is ’n heilige wat die stad se vampiere moet uitwis. Sy eerste slagoffer vermoor hy met ’n houtpen deur die hart. Dit gebeur op die verhoog tydens die opvoering van die riller-drama, “Die Boggelrug-vampierjagter”.

Doktor Olaf Demeyer en sy vriendin adjudant Beth Jordaan is ooggetuies saam met 104 toeskouers. Olaf se dogter Franci vertolk ’n rol in dié drama en is dus bitter ontsteld oor die gebeure.

Beth stem in om die aanvanklike ondersoek te lei. Heel gou veroorsaak die besluit spanning tussen haar en Olaf, aangesien sy vir Franci as ’n medepligtige verdink.

Olaf roep die hulp van ’n private ondersoeker in en ontdek so dat Franci betrokke is by die Port Elizabeth Gothic Vampire Society, ’n groep jong mense wat hul vampierfantasieë uitleef.

Nagjagter is nie bloot ’n vampierstorie nie, dit ondersoek eerder die psigologiese toestand genaamd vampirisme en gewone mense se aangetrokkenheid tot die mites rondom vampiere. Die boek verken mense se vrese vir en aangetrokkenheid tot die donker onbekende, dit ondersoek die donker kant van ’n religieuse soeke en die uitleef van fantasieë.

Oor die skrywer

Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibië gebore. Op 14 is sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het ʼn BA-graad met Hebreeus en Filosofie as hoofvakke aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Vermeulen het later sy teologiese lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Sy debuutroman, Die laaste dans, is in 1998 deur Queillerie uitgegee. In 2000 het sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie, verskyn. Dié boek is met die Sanlamprys (goud), die MER-prys, die Scheepersprys en ʼn ATKV-kinderboektoekenning bekroon. Vermeulen se kortverhaal “In ma se stoof” het in 2006 in die kortverhaalbundel Van spoke gepraat verskyn. Vermeulen en sy vrou, Diana, woon in die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.