Boek: Net mooi fine

Lanie van Reenen

Wat bly oor vir ʼn doodgewone vrou wat eens ’n chateau in Frankryk besit het en haar tans anderkant die perk van sogenaamde bejaardheid bevind? Net mooi fine is die opvolg van Lanie van Reenen se suksesvolle memoir, C’est la Vie.

Dit beskryf die jare nadat Van Reenen se hotelonderneming in Frankryk in 2012 bankrot verklaar is. Nou moet sy aangaan met haar lewe ná die afsterwe van haar man en die leë nes wat haar in die gesig staar nadat haar kinders een na die ander die huis verlaat het om ʼn eie bestaan te maak.

In die proses om vrede te maak met dié gebeure, spandeer Lanie eindelose ure op die blou bank van haar sielkundige, en sy leer om verskeie uitdagings te verwerk: die versorging van haar sterwende eggenoot nadat hul huwelik verbrokkel het, en die impak van die dood van ʼn dierbare vriendin, Merwede van der Merwe.

Op haar pad na heling onderneem Lanie vele avonture: soms per fiets, soos wanneer sy die Camino Portuguese voltooi; maar ook te voet, soos die tog na Mount Everest se basiskamp wat sy ter wille van liefdadigheid aanpak. In hierdie ontroerende omstandighede ontstaan die vraag: Wat is die somtotaal van verlies? En hoe groot is die wins wat daardie verlies tot gevolg kan hê sodat ʼn mens ten slotte kan sê: “Eintlik is alles net mooi fine”?

Oor die outeur

Lanie van Reenen, eertyds ʼn entrepreneur in die interieur- en gasvryheidsbedryf, se memoir C’est la Vie het in 2013 verskyn. Sy woon in Kaapstad waar sy werk as ʼn binneshuiseontwerper en omring word deur haar kinders en kleinkinders.

Uitgewer: Penguin 
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.