Boek: Nóg Kuifie-avonture nou in Afrikaans beskikbaar

Hergé

Die avonture van Kuifie is oorspronklik in Frans met die titel Les Aventures de Tintin et Milou uitgegee.  Dit is een van die gewildste strokiesverhale wat in die twintigste eeu verskyn en is vandag steeds gewild.

Die eerste verhaal van Kuifie het op 10 Januarie 1929 as ’n bylae tot die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle verskyn. Hergé skryf en teken in die tydperk tussen 1929 en 1976 23 strokiesverhale. Die 24ste verhaal is nooit klaar geskryf nie.

In die land van die swart goud 

In die verhaal In die land van die swart goud is daar ’n epidemie van motorenjins wat ontplof, vermoedelik weens ’n probleem met die brandstof. Kuifie, Brits en Britz vertrek na die olievelde van Khemed om ondersoek in te stel. Daar is verskeie struikelblokke op hul pad: Met hulle aankoms word hulle vir misdadigers aangesien, en later kom hulle amper om in die woestyn. Die Britsze en Kuifie se hulp word ingeroep toe emir Mohammed Ben Kalish Ezab se seun, Abdallah, ontvoer word. Tussendeur probeer hulle steeds die raaisel van die ontploffende brandstof oplos.

Die tempel van die son

Die tempel van die son volg op Die 7 kristalballe.  In dié verhaal lei Kuifie, Spokie en kaptein Sardijn se soektog na professor Sonneblom hulle na Callao in Suid-Amerika.  Met die lemoenverkopertjie Zorrino se hulp spoor hulle die Sontempel op waar die professor gevange gehou word. Maar die kultus wat hom ontvoer het, het wraak gesweer omdat die armband uit die graf van die Inka-koning Raskar Kapak in Sonneblom se besit gevind is.  Boonop is die straf vir vreemdelinge wat die tempel binnedring die dood…

Oor die outeur

Die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Prosper Remi oftewel Hergé (1907-1983) staan bekend as die vader van die moderne strokiesprent. Vir sy latere werke doen hy uitgebreide navorsing om die verhale so outentiek moontlik te maak.

Oor die vertaler

Sonya van Schalkwyk-Barrois woon in Parys, Frankryk. Sy het op Stellenbosch studeer en het ’n meestersgraad in Frans. Sy is onder meer ook die vertaler van die Asterix-boeke.

Genre: Strokiesverhaal
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R130,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.