Boek: Nuwe Griessel-dossier ontvou in ‘Donkerdrif’

Deon Meyer

’n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront hou dalk verband met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch na ’n verdwene student soek. Dan volg hulle die spoor van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ’n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.

Oor die skrywer

Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Hy het in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp gematrikuleer en daarna aan die PU vir CHO studeer en ’n BA-graad met Engels en Geskiedenis as hoofvakke behaal. Hy het later ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

In die 1980’s het hy eers as joernalis by Die Volksblad gewerk en daarna by die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo. In 1989 het hy as reklame-kopieskrywer begin werk by Sanlam in Kaapstad.

In 1991 is hy aangestel as bestuurder van interne kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se reklame-afdeling. Later het hy sy eie maatskappy begin wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet, en daarna was hy die bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling. Hy is op die oomblik heeltyds skrywer.

Meyer se romans het al in meer as 25 tale verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse verower vir die Franse uitgawes van sy spanningsromans: vir Feniks Le Grand Prix de Littérature Policiére in 2003 en vir Orion die Prix Mystère de la Critique in 2004Proteus het dit tot op die langlys vir die Impac- literêre toekenning gemaak en die Duitse vertaling het in 2006 die Deutsche Krimi Preis in die internasionale kategorie ontvang.

Prys: R320,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.