Boek: Olinosters op die dak

Olinosters op die dak

Marita van der Vyver, Dale Blankenaar (illustreerder)

Daniel kuier by Ouma en Oupa. Toe dit aand word en tyd om te gaan slap, lees Oupa eers vir Daniel ‘n storie. Toe sing Ouma vir hom ‘n liedjie.

Maar die bed is vreemd, en Daniel voel baie ongemaklik… hy verlang na sy eie kamer en sy eie bed. En hy hoor geluide! Dit klink soos… soos ‘n hele trop OLINOSTERS wat op die dak dans en spring!

‘n Heruitgawe van een van Marita van der Vyver se heel eerste werke. Oorspronklik uitgegee in die negentigerjare met die illustrasies van Piet Grobler. Die baie talentvolle Dale Blankenaar, ‘n voormalige student van Piet Grobler, het hierdie keer sy onmiskenbare stempel op die boek afgedruk.

Die tema van hoe om vrees te oorkom sal altyd relevant wees vir kinders en ouers. Die verhaal word met humor vertel.

Ideaal vir kinders tussen 3 en 6 jaar oud.

Olinosters op die dak is ook op NB Uitgewers se Storierak beskikbaar op die Apple App Store en die Google Play Store. (Luister na ‘n uittreksel van die voorlesing onderaan die berig.)

Oor die outeur:
Marita van der Vyver het haar kinderjare in Kaapstad deurgebring en ʼn meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. In haar twintigerjare publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf ʼn sprokie, in 1992 ʼn blitsverkoper en ʼn literêre sensasie word. Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf ʼn sprokie in sowat ʼn dosyn tale gepubliseer is. Marita woon op ʼn klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. Hulle het drie seuns en ʼn dogter.

Oor die illustreerder:
Dale Blankenaar is ‘n voltydse prenteboek-illustreerder en ontwerper. Hy het al 30 boeke geïllustreer, plaaslik en internasionaal. Hy het al beide vir handels- en opvoedkundige uitgewers werk gelewer. Dale was ‘n finalis in die 2010 Maskew Miller Longman Letterkunde-prys in die kategorie vir illustrasies.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R130-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.