Boek: Om tot verhaal te kom

Lizette Rabe

Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie; dit is die wese van skryfterapie – in Engels bekend as journalling. Dit is waarmee hierdie boek wil help: om jouself te vind.

Skryfterapie is ʼn bewese manier om deur verlies en trauma te werk, ongeag wat die aard of omvang van jou trauma is. Die titel is beskrywend – om “tot verhaal te kom” is waarmee die boek jou sal help, selfs al dink jy dat jy nie kan skryf nie.

Het jy jou werk verloor? Moes jy deur ʼn egskeiding worstel? Was jy die slagoffer van misdaad? Is jy met ʼn ernstige siekte gediagnoseer? Het jy ʼn geliefde verloor? Die antwoord oor die pad vorentoe lê in jouself; dit is waar skryfterapie inkom.

Om te skryf is boonop iets wat jy in jou eie tyd kan doen, en op verskillende maniere; van ʼn dagboek op papier, net vir jou eie oë bedoel, tot openbare ʼn digitale dagboek, soos ʼn aanlyn blog. Party mense dig, ander krabbel op papier … Jy kan dalk selfs jou memoires skryf. Alles help jou “om tot verhaal te kom”.

Dit is die eerste boek in Afrikaans oor skryfterapie. Om tot verhaal te kom verskaf praktiese wenke oor hoe om te skryf en verskaf ook inspirasie uit die werk van ander skrywers.

Lizette Rabe was ʼn bekende en gerespekteerde skrywer en joernalis, ook die redakteur van die tydskrif Sarie, waarna sy in 2001 as professor en hoof van die nagraadse departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is.

Toe spat haar gekoesterde kring in duisende stukke met die dood van haar een seun. Al wat vir haar oorgebly het, was om met woorde te worstel. Woorde moes haar help om sin te maak uit dit wat geen sin meer gemaak het nie.

In hierdie teks help sy ander om ook, soos sy, die proses van skryf te volg om weer tot verhaal te kom.

Om tot verhaal te kom is vanaf 1 April by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R260,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Emily Qamarana ·

Hierdie artikel het net weereens die seer in my lewe in perspektief geplaas. Ek wens net ek kom weet hoe en waar om te begin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.