Boek: Onder ’n sterrehemel

 Onder 'n sterrehemel (Hoëres).jpgBets Smith

Met die Anglo-Boereoorlog op hande, loop Catriona Fraser, ’n jong meisie uit die Kaapkolonie se grensdistrikte, weer vir Rudolf Dreyer van die buurplaas raak. Sy ontdek baie gou dat hy steeds die man is wat haar hart in sy hande hou, maar wanneer sy Rudolf se onbegryplike optrede probeer verstaan, loop sy haar trompop teen ’n jarelange geheim waaroor almal wat sy ken, swyg.

Wat is die geheim van die nag toe Rudolf by haar in die grot op Ben Nevis gebly het, hy sestien en sy net agt? Hoekom is Rudolf destyds weg uit Ben Nevis, Engeland toe, en waarom moes sy kosskool toe?

Nou vermy Rudolf haar. Hy, die Boer, en sy met haar Skotse pa. Van liefde tussen hulle is daar nie sprake nie, glo hy. Hoe kan dit? Hy betaal nou nog die prys vir daardie nag op die berg. Hoe kan sy uitvind wat sy daardie nag verkeerd gedoen het?

Ondanks alles dwing hul lewens, wat lank gelede so onbegryplik uitmekaargeloop het, onkeerbaar terug op ou, bekende paaie na ’n tyd toe hulle soveel gedeel het. Al is Rudolf hoe traag om betrokke te raak, leer hulle mekaar weer ken, hierdie keer as volwassenes.

Ten spyte van die groeiende spanning tussen Boer en Brit, en ongeag haar pa se bitter haat, groei hul gevoel vir mekaar; tot op ’n punt. Uiteindelik besef Catriona sy sal die geheime van die verlede moet ontrafel as sy ’n toekoms vir haar liefde wil wen.

Oor die outeur:

Bets Smith se loopbaan begin as ’n offisier in die SA Weermag se dokumentasiediens waar sy navorsing doen oor die land se weermaggeskiedenis. Na haar troue verhuis sy platteland toe en kry later ’n pos as hoërskoolonderwyseres op Witrivier waar sy steeds na agt en twintig jaar bly.

Haar lewe lank ’n ywerige leser, veral van spanningsverhale en romanses, stuur sy in 1996 haar eerste manuskrip na JP van der Walt-uitgewers en haar eerste spanningsroman, By omdraai verby, verskyn in 1997. Sedertdien het sy al 25 boeke geskryf, waaronder vier spanningsromans. Skrikkelmaan het in 2011 verskyn en Bloedspoor in April 2014.

Bets is aktief betrokke by die gemeenskap in die Nelspruit/Witrivier-omgewing en het in September 2013 ’n suksesvolle lesersdag georganiseer wat deur 120 lesers bygewoon is. Die geleentheid het wye belangstelling uitgelok en persdekking gekry in streekskoerante.

Bets doen moeite om haarself te bemark op haar blog.

UITGEWER: LAPA Uitgewers
PRYS: R214.95*
*PRYS ONDERHEWIG AAN VERANDERING

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.