Boek ondersoek die hartseer en mooi van die dood

tobie-wiese-en-boek-wreed-en-mooi-is-die-dood

Tobie Wiese gesels oor die boek ‘Wreed én mooi is die dood’ wat hy saamgestel het. Foto: Facebook.com

Ons almal is sterflinge wat beslis in ʼn sekere stadium met die dood gekonfronteer sal word, tog vermy die meeste mense eerder die onderwerp en wil eerder nie daaroor praat nie.

Tobie Wiese se jongste boek Wreed én mooi is die dood wil die stilte oor die onderwerp verbreek.

Wiese, ʼn oudjoernalis wat self al verskeie boeke geskryf het en saamgestel het, het ʼn paar bekende Afrikaanse skrywers gevra om hul verhale oor die dood te deel asook die verlies, hunkering en heling wat hulle ervaar het.

Van die skrywers wat hul verhale vertel, is Marita van der Vyver wat roerend skryf oor haar babaseun se dood. Kerneels Breytenbach vertel hoe sy vrou se sterwe hom tot selfkennis gelei het. Willem Landman skryf ook oor die skrywer Karel Schoeman se laaste dae en wense voor sy selfdood.

Wiese het ook die verhaal van ʼn jong paramedikus ingesluit wat vertel oor sy gereelde ontmoetings met die dood. ʼn Sterwensbegeleier vertel in dié boek dat mense met onafgehandelde sake dit dikwels moeilik vind om oor te gee voor die dood.

“Die dood is gelukkig egter nie net ʼn neerslagtige of neerdrukkende tema nie, daar is beslis baie humor wat saam met die onderwerp kom,” het Wiese vertel. So bevat die boek ook ʼn verhaal van ʼn jong dominee wat in ʼn leë graf beland het en die skrywer Annelie Botes se tong-in-die-kies-lys van etlike voorskrifte vir haar eie begrafnis.

Wiese sê hy hoop dat lesers met dié boek sal ervaar dat hulle nie die eerste of enigste persoon is wat deur die dood getraumatiseer is nie.

“Ek glo die stories in die boek kan help om die angel uit die dood te haal.”

  • Luister gerus saam na die gesprek boaan hierdie berig waar Esté Meyer Jansen van Maroela Media met Tobie Wiese die samesteller van Wreed én mooi is die dood Wiese vertel van die skrywers wie se verhale in die boek opgeneem is. Hy verduidelik ook hoekom hy dink die dood is steeds so ʼn taboe-onderwerp.
  • Wreed én mooi is die dood is saamgestel deur Tobie Wiese en word uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers. Die boek is beskikbaar by alle goeie boekwinkels en die aanbevole verkoopprys is R270,00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan Brand ·

Die dood is net wreed as jy magteloos daarteen staan. As jy die proses kan beheer, is jy nie uitgelewer aan die wreedheid daarvan nie. Daarom gee begeleide selfdood en eutanasie bevryding van die angs, pyn, ellende en selfs vernedering van die sterfproses. Ek hoop Suid-Afrika kan spoedig vordering met hierdie wetgewing maak en sterkte aan Proff Willem Landman, Sean Davison en andere wat hieraan werk.

Anoniem ·

Daar is niks humoristies omtrent die dood nie. Staaltjies oor mense se ervarings met dood kan glad nie die angel uit die dood haal nie. Slegs Jesus Christus het die dood oorwin en daarom kan slegs Hy die angel uit die dood haal. Sogenaamde genadedood is ‘n sonde teen die Skepper.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.