Boek: Ons gaan ʼn taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare

Taalboek_voorbladFINAAL

Prof. Jaap Steyn

‘Ons gaan ʼn taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare is dié boek oor Afrikaans wat op die rak moet wees van elkeen wat lief is vir Afrikaans, of in die taal se ontwikkeling belangstel. Dit is uit die pen van prof. Jaap Steyn, uitgegee deur Kraal Uitgewers RSA MSW en vertel die geskiedenis van Afrikaans van die 1870’s tot vandag in 17 hoofstukke.

Prof. Jaap Steyn is bekend as vooraanstaande biograaf, kultuurhistorikus, taalpolitieke skrywer en digter wat onder meer al vir sy werk bekroon is met die Eugène Maraisprys, Stalsprys vir Geskiedwetenskappe, die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie en die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap.

Oor ‘Ons gaan ʼn taal maak’, sê hy: “Baie mense het gehelp om van Afrikaans ʼn kultuurtaal te maak – honderde, nee duisende, eintlik ʼn ‘ongetelde skare’, soos ʼn ou gesangevers dit stel. Een van die wonders van Afrikaans is dat die taal deur die dekades heen soveel onselfsugtige stryders, liefhebbers en skeppers gehad het. Oor sommige van hulle gaan hierdie werk.”

Taalkenners is dit eens dat ‘Ons gaan ’n taal maak’ ʼn standaardwerk oor Afrikaans is.

Prof. Christo van Rensburg, voorheen onder meer hoof van die Departement van Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat, skryf: “‘Ons gaan ’n taal maak’ is ’n monumentale werk van groot betekenis. Dit is ’n aangrypende dokument van so baie van die fases van Afrikaans wat nooit weer so daar sal uitsien nie. Dit was van voor tot agter ’n plesier om deur die boek te lees!”

Prof. Hennie van Coller, buitengewone professor en departementshoof van Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, beaam: “Dit is ’n indrukwekkende werk wat omvang en diepte betref.”

Wat van ‘Ons gaan ʼn taal maak’ iets besonders maak, is dat dit nie alleen ʼn omvattende beskrywing is van hoe Afrikaans van geselstaal in die negentiende eeu tot hoëfunksie taal in die twintigste eeu ontwikkel is nie, maar as kultuurhistoriese publikasie ook die talryke terugslae en probleme wat die taal se sprekers moes oorkom, ondersoek – van die onderdrukking deur die Milner-bewind tot die benadeling deur die ANC-regering; van die skade weens apartheid tot by die verliese vanweë transformasie.

Afrikaans beleef tans vele uitdagings. Daar word op talle terreine teen die taal gediskrimineer op grond daarvan dat dit ʼn amptelike taal was met meegaande voordele in die apartheidsjare. Mense wat byltjies met Afrikaners te slyp het, poog om polities korrek te wees, of die guns van kaders wil wen, probeer Afrikaans marginaliseer en uit die openbare lewe verdring. Een van die wanvoorstellings wat soms in samehang hiermee gebruik word, is dat Afrikaans deur opportuniste ‘gekaap’ is om persoonlike of groepsvoordeel daaruit te probeer skep.

‘Ons gaan ʼn taal maak’ ontbloot hierdie soort bewerings as ʼn kwaadwillige verdraaiing van die geskiedenis. Dit vertel hoe mense met ʼn passie vir die taal teen groot persoonlike opoffering gewerk het om te verseker dat Afrikaans maar net een van vier tale was om in die twintigste eeu hoëfunksie status te bereik.

Die boek is eintlik die biografie van ʼn taal, met ernstige oomblikke wat strek van taaltwiste tot politieke krisisoomblikke, staaltjies, asook tonekrul lekker “onthou jy nog”-vertellings, byvoorbeeld oor die radioverhaal Staal Burger, TV-programme soos Haas Das se Nuuskas, plus vroeë tydskrifte en koerante.

Die boek bevat meer as 200 swart-en-wit foto’s. Moeite is gedoen om juis na minder bekende foto’s van historiese figure soos generaal De Wet en C.J. Langenhoven te soek. Die verskeidenheid en gehalte daarvan skep die indruk dat hierdie dalk ʼn koffietafelboek is, maar tog bied dit soveel meer aan die leser. Interessante feite word in sowat 125 feitekassies uitgelig, byvoorbeeld inligting oor die Soweto-onluste van 1976 in ʼn neutedop, bekendste Afrikaanse rolprente van elke era en die slotwoorde van dr. D.F. Malan se “Afrikaner, Quo Vadis?”-toespraak. Voetnote getuig van die diepgaande navorsing wat die skryf van die boek voorafgegaan het. ʼn Omvattende persoons- en saakregister maak die magdom inligting in hierdie werk maklik toeganklik vir navorsers op alle vlakke.

Die titel, ‘Ons gaan ʼn taal maak’, eggo die leuse van een van die vroegste taalstryders wat geglo het dat Afrikaans ‘gemaak’ kan word. Dit is ten slotte ook ʼn wekroep aan huidige en komende geslagte wanneer ʼn mens met die boek in die hand staan en onder die indruk kom van die omvang van werk en opofferings wat nodig was om die taal tot vandag toe te ‘maak’. ʼn Taal ‘maak’ nie homself nie. Die Afrikaanse taalskat is van generasie tot generasie verryk en aangegee, nou is dit ons beurt om dit verder te ‘maak’.

In die skrywer se eie woorde aan die einde van die boek: “Die ‘lesse van die verlede’ is selde eenvoudig en eenduidig, maar ʼn paar sleutelwoorde uit fases in die geskiedenis van Afrikaans dui die koers aan: verset en opbou; Helpmekaar; sorg vir die ruimte van ʼn volledige lewe; behoud van die taal as die draer van lewensbehoeftes; en skep ʼn eie toekoms.”

Soos die HAT en FAK-Sangbundel, hoort ‘Ons gaan ʼn taal maak’ in elke Afrikaanse huis – dit is nie bloot ʼn boek wat aangekoop moet word nie, maar ʼn bron vir inspirasie vir liefhebbers van die taal op die pad vorentoe.

‘Ons gaan ʼn taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare
Outeur: J.C. Steyn
Prys: R395-00 (R80-posgeld uitgesluit)*
*Prys onderhewig aan verandering
Bestellings: [email protected]; www.kraaluitgewers.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae