Boek: Ontdek die wêreld van Magriet, ʼn stadshoender

Nin is baie geheg aan haar geveerde vriende (Foto: Verskaf)

Melanie Tait het haar debuut as kinderboekskrywer gemaak met die Magriet-reeks wat onlangs verskyn het. Sy vertel dat dié verhaal op die ware avonture van haar dogter, Nin, en dié se hoenders, Matilda en Siena, gebaseer is.

“My dogter en haar hoenders, wat sy as ʼn verjaarsdaggeskenk gekry het, was my inspirasie vir die reeks,” vertel Tait. “Nin doen alles saam met haar geveerde vriende – van skoolwerk en konsert hou tot stories lees en wurms soek. Ons hoef nie eers ʼn fiksionele wêreld te skep nie, want die staaltjies ontvou daagliks in ons huis.”

Tait sê sy het bloot die alledaagse gebeure van Nin en haar hoenders waargeneem, agterna ʼn knippie fantasie bygevoeg en dit toe in stories omskep.

Nina en Magriet oefen al lank aan ʼn konsert. Hulle wil dit vir Mamma en Pappa opvoer. Die konsert begin amper, maar Magriet se stem is weg!

ʼn Ryk verbeelding verbreed die mens se wêreld en dit maak innovasie en nuwe idees moontlik, sê Tait.

“My verbeelding was nog altyd ʼn skatkis en om die wêreld deur my dogter se oë te ervaar is kosbaar en ʼn nuwe ontdekkingsreis. En ja, ek het kort-kort vir Nin die Magriet-stories gegee om te lees, want sy ken haar hoenders die beste. Sy ken ook hulle lyftaal en weet wat elke geluid beteken.”

Sy vertel ook dat Nin intussen haar eie eierbesigheid begin het met die eiers wat Siena en Matilda lê.

Tait se liefde vir stories kom van kleins af. Haar ma onthou dikwels dat Tait op sewe jaar die mooiste storie oor ʼn flamink geskryf het en dat sy dan die papiervelle waarop sy die storie geskryf het met krammetjies aanmekaar geheg het om ʼn boek te vorm. “My dogter is nou sewe en ek en sy maak ook ons eie boeke.

“My hart het behoorlik gebars van opgewondenheid en dankbaarheid toe my uitgewer laat weet dat ek die Magriet-reeks kan skryf,” vertel Tait opgewonde. “Dit is daardie lekker gevoel wanneer ʼn jarelange droom skielik ʼn realiteit word.”

Tait het ʼn vurige passie vir stories, meer spesifiek om nuwe maniere van storievertel te ondersoek en te sien hoe stories en mense mekaar kan aanvul en vasweef.

Sy is in besonder opgewonde oor Linki Brand se raakvat illustrasies van Nin en Magriet.

“Brand is so talentvol en sy het die karakters kolskoot vasgevang. Ek verkyk my aan die sketse. Dit is so mooi, so eg en so lekker!”

Oor die boeke

(Foto: Verskaf)

Lesers ontmoet vir Nina en Magriet in Magriet die stadshoender. Dié twee het saam hope pret en gaan op baie avonture, soos om ʼn eierdief op te spoor. In die tweede boek Magriet hou konsert voer Nina en Magriet ʼn konsert op, maar Magriet se kekkel is weg… Gaan die konsert betyds gered kan word?

Oor die skrywer

Tait werk al langer as vyftien jaar in die kommunikasiebedryf, hetsy in druk- of in oudiovisuele medium. Na haar universiteitsopleiding op Potchefstroom, vind sy haar terstond in die kleurryke wêreld van televisie. Tait was jare lank voltyds bedrywig by The Northen Review in Polokwane as joernalis en leefstylredakteur. Sy was ses jaar deel van die DEKAT-tydskrif en -televisieprogram, wat uit die tydskrif gespruit het. Op die oomblik doen sy werk op vryskutbasis en skryf gereeld profiel- en kunsartikels vir tydskrifte. Tait doen ook televisiewerk waar sy inhoud vervaardig en regie vir produksies doen. Sy het ook onlangs haar eie kos- en kunsreeks geskep wat op ʼn nasionale lugdiens se uitsaaiplatform wys.

Oor die illustreerder

Brand hou van teken en stories. Sy is in die tagtigerjare in Potchefstroom gebore. Daarna het hulle in Pretoria en later in Venterstad in die Bo-Karoo gebly. Brand het grafiese ontwerp aan die Noordwes-Universiteit studeer en in die geheim opgewonde geraak oor illustrasiewerk. Sy verruil sentraal Suid-Afrika vir die Kaap en doen vryskutwerk vanuit Hermanus en daarna Bettysbaai en Greyton. Brand woon tans in Penicuik, Skotland, saam met haar man, Werner, dogtertjie, Fia, en seuntjie, Ben. In 2018 het sy illustrasies vir twee kinderboeke in die Verenigde Koninkryk gedoen en ’n strokiesprent in die 24 Panels-bundel gepubliseer.

Prys: R60,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke en e-boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.