Boek ontmasker onderwêreld van ʼn reeksverkragter

In ʼn Enkele verhaal deel Deon Wigget vir die eerste keer sy storie in Afrikaans: ʼn storie oor die verwerking van kindertrauma en die ontmaskering van Willem Breytenbach, die eens briljante onderwyser, mentor en latere mediabaas.

Die boek volg ná “My Only Story” (2019), ʼn reeks opspraakwekkende podsendings waarin Wigget die identiteit van Breytenbach onthul wat hom as skoolkind verkrag het.

Wigget het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat hy destyds die reeks in Engels gedoen omdat hy in daardie stadium soveel as moontlik mense wou bereik. Maar dit was vir hom belangrik om sy verhaal ook in Afrikaans te vertel. “Dit is eintlik ʼn Afrikaanse storie wat nog nooit in Afrikaans vertel is nie,” meen hy.

Hy gesels verder oor sy ervaring van die steun vir mans of seuns wat soortgelyke trauma ervaar in vergelyking met die talle organisasies is wat hulle beywer vir die beskerming van vroue en kinders wat verkrag of seksueel mishandel word. Hy verwys kortliks na waarskuwingstekens of wenke wat daarop dui dat ʼn kind misbruik word.

“Dit was vir my belangrik om vir mense ʼn onderwêreld te verduidelik wat ons as gewone mense ons nie kan indink nie. Enige regdenkende mens vind seks met ʼn kind afskuwelik. Ek bedoel, wie dink so? Maar ongelukkig is daar tog mense wat so dink,” sê Wigget.

In ʼn Enkele verhaal skep Wigget dan ook ’n model wat deur enigiemand gebruik kan word om ’n pedofiel te ontmasker. Hy deel die volgende waarskuwingstekens met ouers en voogde: Wees bedag op ʼn gedragsverandering soos skoolpunte wat versleg of kinders wat skielik teruggetrokke is, waar hulle voorheen ʼn ekstrovert was, monitor jou kind se verhouding met ander volwassenes en verstaan die proses van “sexual grooming”. Dit is die proses waar ʼn volwasse persoon ʼn emosionele verbintenis met ʼn kind kweek met die doel om hom of haar seksueel te mishandel.

In sy eie woorde: “Dit is lekker om voor te gee dat mans nie kinders verkrag nie, maar as jy eers weet waarna om op te let, word dit verbasend maklik om hulle uit te ken. Sodra ’n universele patroon met ’n spesifieke man se profiel ooreenstem, word alles wat voorheen verborge was, blootgelê.”

’n Enkele verhaal is die boeiende storie van een man se stryd om die trauma van sy kinderjare te oorkom, en is geskryf om ander te help wat dalk dieselfde beproewing deurge­maak het, en sy verkragter voor die gereg te bring.

  • Breytenbach is in Desember 2019 in hegtenis geneem en staan tans tereg op aanklag van verkragting en seksuele mishandeling van seuns. Sedert sy inhegtenisneming het tientalle seuns erken dat Breytenbach hulle tussen 1983 en 2019 seksueel mishandel het. Breytenbach het nog nie in die saak gepleit nie.
  • Luister hierbo na die volledige onderhoud met Deon Wigget, skrywer van ʼn Enkele verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.