Boek oor Afrikaans bevat talle lesse

Afrikaans – Lewende taal van miljoene is ’n omvattende blik op die ontwikkeling en hedendaagse posisie van Afrikaans. Die boek is reeds in 2004 uitgegee, maar ’n tweede uitgawe het in 2012 die lig gesien (waarskynlik oor die gewildheid daarvan). Eerder as om die totale ontwikkeling van Afrikaans op elke terrein na te speur, verskaf 23 skrywers uit verskillende sfere van die Afrikaanse wêreld ’n gesaghebbende ontleding van Afrikaans op hul verskillende terreine.

AfrikaansDie boek is deurspek met die suksesse van Afrikaans as onder meer regs-, onderwys-, universiteits-, media- en teologiese taal. Daarbenewens maai dit onder die historiese mites oor Afrikaans, probeer dit die verkeerde persepsies oor die taal regstel en lig die voordele daarvan vir die sprekers van ander Suid-Afrikaanse tale uit. Die boodskap is eenvoudig: As Afrikaans toegelaat word om sy kreeftegang te loop en uiteindelik uitsterf, sal die pessimiste oor veeltaligheid reg bewys word.

Dit is daarom van groot belang dat elkeen wat spesifiek besorgd is oor die oorlewing en uitbouing van Afrikaans, sowel as oor veeltaligheid in die algemeen, hierdie boek onder oë kry. Dit is gelaai met goeie feite en argumente en raak nie oordrewe-romanties oor die taal sonder om die tekortkominge daarvan te erken nie. Dit is egter ’n oorwegend positiewe boek wat nie fatalisties oor Afrikaans se toekoms is nie. Dit sou van groot waarde gewees het om die hoofstukke hier op te som en te behandel, maar helaas is spasie altyd ’n probleem in ’n boekresensie. Dit is daarom dat dit eerder nuttig sal wees om treffende algemene temas te beklemtoon. Hierdie temas behoort as ’n wekroep te dien dat Afrikaans se kwyning en ondergang geensins as ’n onafwendbare verskynsel beskou hoef te word nie en dat die taal se toekoms slegs in sy sprekers se hande lê.

Eerstens maak talle van die bydraende skrywers, onder meer Flip Buys en Réna Pretorius, die punt dat Afrikaans nie slegs gaan oorleef as dit net gepraat word nie. Alledaagse gesprekke tussen mense vind nie op ’n gesofistikeerde terminologiese vlak plaas nie. Die boek wys juis uit dat Afrikaans sy blomtydperk binnegegaan het toe dit op universiteitsvlak en in die sakewêreld meer gevorderd geraak het. Engelse vaktaal het Afrikaanse ekwivalente woorde begin kry en daarom kon Afrikaanse van kindsbeen af tot die graf in alle kontekste en omgewings in die land – op skool en universiteit, in die werksplek, in die openbaar – gebruik word. As Afrikaans slegs in informele kontekste soos by die huis, in kroeë en by rugbywedstryde gebruik gaan word, gaan dit tot ’n kombuistaal (letterlik en figuurlik!) gereduseer word. Afrikaans moet eerstens sy plek in die ekonomie en politiek kan volstaan ten einde homself behoorlik te handhaaf anders verloor dit vele van sy hoëvlak-terminologie en -funksies. Indien mense dink die taal het nie enige ekonomiese waarde nie, sal dit spoedig vir Engels verruil word op skool en tersiêre vlak. Hierdie proses het reeds groot afmetings begin toon soos wat Afrikaanse studente na Engelse klasse stroom met die wanindruk dat Engels hulle beter vir die werksplek sal toerus. Kortom vra Afrikaanssprekendes: Watter ekonomiese geleenthede bied my taal my?

Tweedens, en ten nouste verbind met die bovermelde tema, is die noodsaaklikheid van instellings vir ’n taal, veral ’n minderheidstaal wat boonop nog polities ongewild is. Skole, tersiêre instellings, werkgewers en organisasies wat die taal bevorder en dit as ’n vereiste vir indiensneming maak, taal- en kultuurorganisasies, kerke, asook ’n lewensvatbare en voornemende media- en uitgewersbedryf is sommige van die instellings waar en waarin ’n nie-dominante taal kan gedy en oorleef. Tesame vorm hierdie instellings ’n totale leefwêreld wat die indiwidu in ’n taal- en kultuurgemeenskap inbind en omvou. Die indiwidu konformeer dus nie tot die algemene omgangstaal nie, want hy of sy is die hele dag omring deur die taal. Die Afrikaanse gemeenskap is, veral in vergeleke met die Afrikatale in Suid-Afrika, baie bevoorreg in hierdie opsig. Heelwat organisasies in die land bevorder Afrikaans of het dit as die werkstaal ingestel, met veral klein besighede in Afrikaanse gebiede as goeie voorbeelde. Groot firmas verengels deesdae hul dokumentasie en kommunikasie weens die heterogene karakter van hul werkerskorps en kliënte en les bes, ook eise van die regering se nasiebouprojek. Enige Afrikaans in sulke kontekste is bloot verbaal en toevallig. Dit is daarom my voorspelling dat Afrikaans se heil in kleiner instellings soos woonbuurt-besighede en kerke lê.

Daarby moet die vlak van debat, leer en werk in hierdie instellings van hoogstaande gehalte wees. Ebbe Dommisse, oudredakteur van Die Burger, vertel in sy hoofstuk watter onmisbare opvoedkundige rol die Afrikaanse koerante vroeër jare in die Afrikaanse gemeenskap gespeel het. Die vraag is: Gebeur dit nog steeds? Indien wel, tot watter mate? Die taaldebatte en Afrikaans se kwyning uit die openbare sfeer kry min aandag in die Afrikaanse media terwyl dit een van die prominentstes behoort te wees.

Die derde tema of les uit hierdie boek is dat ’n taal nie gaan oorleef as die sprekers daarvan nie polities te werk gaan om dit te red en selfgeldend oor die gebruik daarvan is nie. Die boek bevat talle voorbeelde van waar Afrikaners geagiteer het vir hul taal – en gewen het! Hoeveel kulturele en taalskatte sou nie verlore gegaan het nie indien onder andere dr. D.F. Malan toegelaat het dat die Universiteit van Stellenbosch slegs Engels was? Of dat Afrikaanse studente nie aangedring het op moedertaalonderrig nie? Prof. Derek van der Merwe se hoofstuk oor die lang en moeisame ontwikkeling van Afrikaans as regstaal illustreer hierdie argument goed met ’n hele boel voorbeelde van baanbrekerswerk wat gedoen is in ’n veld in Suid-Afrika wat aanvanklik totaal Engels was. Hedendaagse taalkonferensies sal slegs ’n simboliese betekenis hê as dit nie met tasbare stappe en daadwerlike optrede opgevolg word nie. Soos prof. Hermann Giliomee al per geleentheid aangevoer het, moet Afrikaners en Afrikaanssprekendes “’n dun vel” ontwikkel.

Met die ontbinding van die Nasionale Party, het Afrikaners en Afrikaanssprekendes in den breë ’n belangrike politieke voertuig vir die bevordering van Afrikaans verloor. Daarom moet die sprekers druk op politieke partye en organisasies plaas om Afrikaans te bevorder en dit ’n prioriteit in hul aktiwiteite te maak. Terselfdertyd moet hulle hul gewig ingooi by daardie partye en organisasies wat dit reeds doen en hulle aanspreeklik hou om dit doeltreffend en met onderskeiding te doen eerder as om leë beloftes maak. Prof. Theo du Plessis se hoofstuk oor taalaktivisme is onontbeerlik in hierdie opsig. Waar daar in Suid-Afrika neerhalend na taalstryders soos Giliomee as “taalbulle” verwys word, voer Du Plessis deur internasionale voorbeelde aan dat plaaslike taalaktivisme nietig is in vergeleke met die res van die wêreld. Daar is byvoorbeeld dubbeld soveel hofsake oor taal in Kanada in ‘n maand as wat daar in Suid-Afrika in ’n hele jaar is! Hy noem litigasie, klagtelegging en mediadekking as sommige van die pyle in taalstryders se koker. Meer hoflike, informele en alledaagse instrumente kan hierby gevoeg word, soos om aan te dring op Afrikaans in winkels, banke se takke en restaurante in Afrikaanse gebiede.

Telkens word daar in die boek verwys na die groei van Afrikaans as dit op ’n politieke vlak goed gaan met die Afrikaanse gemeenskap. Die regswese is só ’n voorbeeld. Dit is daarom belangrik dat die gemeenskap nie onttrek uit die politieke arena nie en hul stem daar laat geld. Ditto die ekonomie met geld wat die taal sal steun (in die boek word die mag van Afrikaanse reklame mildelik behandel) as die gemeenskap ekonomies sterk staan.

Wat was dan die leemtes in die boek? Die boek dien basies net as ’n breë oorsig van Afrikaans en moet geensins as ’n volledige verslag van die ontwikkeling van Afrikaans of selfs die huidige posisie van die taal vertolk word nie. Dit kan ten beste as ’n wegspringplek vir talle ander meer omvattende oeuvre oor spesifieke terreine binne Afrikaans dien. Afrikaans in die Inligtingsera verg byvoorbeeld heelwat verdere navorsing. Tweedens gee die boek slegs breë riglyne vir taaloorlewing en wat vir Afrikaans in die verlede gewerk het. Dit stel dus die uitdaging aan die Afrikaanse gemeenskap om ’n meer praktiese boek te skryf of saam te stel oor konkrete stappe om Afrikaans te red en te bevorder.

Wie stel belang?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Boeke, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae