Boek: Oor die ‘enersheid’ van ‘anderste’ kinders

Landé Siebritz, skrywer van ‘Ammal het ‘n anners’, en haar dogter, BeaSabet. (Foto: Verskaf)

Landé Siebritz is ʼn eggenoot, ma van twee en haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy het ook nie op haar laat wag om ʼn kinderboek, Ammal het ʼn anners, te skryf toe ʼn storie-idee by haar opkom nie.

“Ek is ʼn eerste-keer-boek-ding-doen-mens, maar met ʼn ‘ou’ liefde vir woorde en skryf,” het sy in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Siebritz woon in Piketberg saam met haar wynmakerman, Jurgen, en hulle twee dogters, EllieSufie en BeaSabet. Sy is ook die stigter van Makskaap, ʼn onderneming wat geleenthede vir kinders met ontwikkelingsuitdagings wil bied.

Die idee vir Makskaap het ontstaan uit die Siebritz-egpaar se behoefte om in hulle 12-jarige dogter BeaSabet, wat met globale ontwikkelingsagterstand gebore is, se toekoms te belê.

Volgens Siebritz is globale ontwikkelingsagterstand ʼn sambreelterm wat gebruik word vir kinders wat ʼn beduidende vertraging in hul kognitiewe en fisieke ontwikkeling ervaar.

Omdat BeaSabet nooit onafhanklik in die arbeidsmark sal kan werk nie, het die Siebritze dit goed gedink om Makskaap as ʼn onderneming vir hulle dogter te begin. Mettertyd word Makskaap se produkte en dienste uitgebrei en so kry ander jong mense in die omgewing ook werksgeleenthede.

Ammal het ʼn anners is juis die jongste produk van Makskaap. Siebritz sê hierdie boek is met groot sorg en ʼn dieperliggende behoefte geskryf.

“My behoefte was om ʼn storie te skep wat die ‘enersheid’ van ‘anderste’ kinders vir mense verduidelik wat nie gereeld daarmee te doen het nie. Ek sien dikwels dat baie mense half versigtig half bang is om met hierdie kinders te kommunikeer.”

Dit beteken egter nie dat daardie kinders se behoeftes verskillend as ander mense sʼn is nie.

“BeaSabet se begeertes is eindelik presies dieselfde as joune en myne,” sê Siebritz. “Sy smag ook na liefde en aanvaarding, en wanneer sy siek is, het sy ook medisyne nodig.”

Sommige woorde in Ammal het ʼn anners is opsetlik anders geskryf of gebruik om die “annersgeit” van kinders met ontwikkelingsuitdagings te beklemtoon. Siebritz het ook tussendeur van BeaSabet se eie woorde en uitsprake in die storie gebruik.

“Die boodskap wat ek aan die leser wil oordra is dat God ons almal saam in hierdie wêreld gesit het. My sterk eienskappe is dalk jou swak eienskappe, en andersom.

“As ons leer om mekaar se ‘anders-wees’ beter te verstaan sal dit met ons mensdom heelwat beter gaan.”

Ammal het ʼn anners kos R150 (prys onderworpe aan verandering) en is beskikbaar op bestelling. Om die boek te koop stuur ʼn e-pos na [email protected] of bestel dit aanlyn op Makskaap se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Dit is ‘n pragtige en wonderlike oorspronklike skepping. Baie geluk en mag “Makskaap” groot voorspoed inbring! Ons is maar almal annerster – makskape binne en buite die kraal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.