Boek: Oor die wel en wee van Afrikaner-magnate

Ebbe Dommisse

ʼn Ongekende opkoms van Afrikaner-magnate het die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope drie dekades gekenmerk. Dit is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging.

Vandag ding talle van hulle internasionaal mee. Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is die mediagroep omvorm tot ʼn internasionale beleggingshouergroep wat op e-handel en die internet fokus. Johann Rupert het Richemont in die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot Afrika se grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel uitgebou het.

Fortuine verduidelik hoe hierdie en ander sakeleiers, onder wie Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Roelof Botha, Hendrik du Toit en ʼn aantal megaboere, hul sakeryke tot stand gebring het. Dit beskryf hul lewens- en sakefilosofieë en wat van hulle sulke suksesvolle entrepreneurs maak.

In onlangse tye het die ineenstorting van Steinhoff Internasionaal, die meubelhandelaar met Markus Jooste aan die stuur, ʼn groot hap uit sommige van hierdie fortuine geneem. Jooste is die fokus van een van die hoofstukke, terwyl dit in ʼn ander op die filantropiese projekte van hierdie superrykes val.

Oor die skrywer

Ebbe Dommisse is die skrywer van die topverkoper Anton Rupert – ’n Lewensverhaal en etlike ander boeke. Hy het as hoofredakteur van Die Burger afgetree na ʼn loopbaan van 40 jaar in die joernalistiek. Hy het op Carnarvon in die Karoo grootgeword en aan die Hoër Jongenskool in die Paarl gematrikuleer. Dommisse het ʼn meestersgraad aan die nagraadse skool vir joernalistiek van die Columbia-universiteit in New York en ʼn PhD aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Naspers se hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, is aan hom toegeken.

Prys: R310,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Jonathan Ball Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Dit is goeie leesstof, kan nie wag om die boek te lees nie. Mag daar dubbeld soveel nuwe Afrikaner sakemagnate wees wat ten spyte van al die ANC se klippe in hul paaie groot sukses behaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.