Boek oor ‘hardegat’ boerekinders in oorlogtyd bekoor

Die skrywer Phillip C Henn se debuutroman, “500 myl”, is in Desember uitgereik. (Foto: Verskaf.)

Wat tien jaar gelede as ’n gedagte vir ’n kortprent begin het, is nou in ’n boek vasgevang met die oog daarop om volgende jaar as ’n vollengte fliek aangebied te word. Dié fliek is die aangrypende verhaal van sewe boerekinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Die skrywer Phillip C Henn wat sedert 1997 op Oesterbaai woon, se debuutroman, 500 myl, is in Desember privaat uitgereik. Net 50 kopieë van dié aksieroman wat deur ware verhale en karakters geïnspireer is, is toe gedruk. Belangstelling in die boek het deur lesers se oorvertelling soos ’n veldbrand versprei en ná ʼn herdruk is sowat 500 kopieë verkoop voor die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande vlak 5-inperking ’n stokkie daarvoor gesteek het.

Dit het Henn (59) aanvanklik gestrand gelaat, maar hy het die tyd benut om sy webwerf op te knap. Die webwerf is pas voltooi en belangstelling vir die boek het weer die hoogte ingeskiet. Die boek kan nou vir R300 bestel word, wat afleweringskoste insluit. Boonop skenk Henn R30 van elke boek wat verkoop word aan die liefdadigheidsorganisasie Solidariteit Helpende Hand.

“Ek beskou dié donasie as my tiende wat ek kan teruggee. Ek het Helpende Hand gekies omdat hulle betroubaar is en ’n mens weet waarheen jou skenking gaan – vir mense wat regtig in nood is,” vertel Henn.

Oor die boek sê Henn hy het tien jaar gelede begin navorsing doen vir ’n kortprent. Hy het egter gou agtergekom die verhaal wat vertel moet word, is gans te lank en die ratte in sy kop het begin draai om minstens ’n twee uur lange rolprent daarvan te maak.

“Die prent sou egter te duur wees as ’n mens so enorme projek alleen aanpak. ’n Vriend in die bedryf het voorgestel om die draaiboek in ’n boek te omskep. Die boek sal nie noodwendig die geld inbring wat dit kos om ’n rolprent te vervaardig nie, maar ’n boek met goeie verkope sal wel ’n platform skep om internasionaal aandag te trek,” sê Henn.

Henn het baie navorsing gedoen en konsultasies met verskeie kenners in verskeie gebiede gehad om die verhaal so realisties moontlik te maak. Die kenners strek van oud- militêre kundiges tot kindersielkundiges.

“Ek het ’n behoefte gehad om die verhaal van 120 jaar gelede so eerlik en werklik as moontlik te vertel. Ek wou byvoorbeeld weet hoe kinders op oorlogtrauma sou reageer. Daar was toe nie tyd vir kindwees nie. Hulle het alles ervaar soos groot mense, en doodgegaan soos groot mense. Ek het selfs met dierekenners gepraat oor hoe ver ’n perd in sulke omstandighede sou kon ry. Die plot is op feite gebaseer en met outeursvryheid saamgestel,” sê hy.

Volgens Henn is die boek glad nie polities nie: “Dit is bloot sewe taai boerekinders wat van ’n oorlog af vlug en hoe meer hulle vlug, hoe meer volg die oorlog hulle.”

Hy verduidelik oud en jonk sal aanklank vind by die boek. “Die ouer garde kan daarmee identifiseer, en jongeres kan deur die verhaal interessante feite van hul geskiedenis leer. Goed wat nie in vandag se geskiedenisboeke staan nie.”

Hy sê die boek is eintlik ’n tiener-aksieroman wat in dieselfde genre as The Hunger Games, The Maze Runner en Divergent val – tieners wat op hul eie in ’n wêreld moet oorleef wat deur volwassenes in flarde gelaat is.

“Die kinders het gebloei, swaar gekry en koud gekry, maar die jong boertjies was sterk ysters en ’n klomp hardegat kinders wat saam deur diep waters is. Dit is wreed, snaaks en hartseer. Dit maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, jy sal die boek klaar maak en goed hê om oor te dink.”

Daar word reeds planne beraam om die boek in Engels, Russies, Spaans en Duits te vertaal, en vir die silwerskerm gereed te kry. Henn werk ook reeds aan ’n opvolgverhaal.

René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk-hoof van kommunikasie, moedig die publiek aan om die boek te koop. “Helpende Hand het pas die Ons is Monumentaal-inisiatief saam met die sanger Ruhan du Toit van stapel gestuur om in hierdie uitdagende tye kulturele armoede te verlig en hoop te bring. Hierdie boek is beslis ’n monumentale gebeurtenis en ons is dankbaar en trots om deel daarvan te wees. Ons staan bankvas agter ons kultuur. Die verhaal sal die boere se trotse geskiedenis die wêreld instuur,” sê Roux.

Die boek kan by www.500myl.com bestel word. Die eerste hoofstuk kan ook daar gelees word.

“500 myl” vertel die aangrypende verhaal van sewe taai boerekinders wat van ’n oorlog af vlug, en hoe meer hulle vlug, hoe meer volg die oorlog hulle. (Foto: Verskaf.)

Sinopsis

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het 420 000 Britse soldate in Suid-Afrika voet aan wal gesit. Die 18 000 Boere wat bereid was om te veg tot die dood was bekend as die Bittereinders. Nagenoeg 3 000 van hulle was seuns van vyftien jaar en jonger; die Penkoppe.

Een wintersnag skuins anderkant Brandfort het ʼn handjievol Penkoppe besluit om te vlug; Lukas Malan, Wit Willem Marx, Neef, die wille wragtags Piet Ver Skiet Visagie en Kleinjan Tromp, en die twee jongetjies, Sybrandt Geldenhuys en sy tienjarige maatjie, Louwtjie Wessels.

Nie een van hulle sou daardie bittere koue nag ooit kon dink watter invloed ʼn brawe jong plaasmeisie, Sanna de Jager, later op hulle lewens sou hê nie.

Hierdie is hulle verhaal.

Dit is die jaar 1901.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Smurf ·

Dink net wat sou die verloop van ons land gewees het as die boerekommandos die engelse bloedneus gegee het ??? Of as die engelse nie besluit het het om te kom vat wat nie aan hulle behoort nie , of as die duitsers dit eerder besluit het , of die franse of die portugese ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.