Boek: Op Die Punt Van My Tong: 80 Tawwe Tongknopers

Op-die-punt-van-my-tong.jpg

Jaco Jacobs

Net ‘n vriendelike waarskuwing
voor jy die boek koop:
Hierdie tongknopers kan jou tong
op tagtig plekke knoop …

Proe aan ‘n Chinese sjef se seekossop en maak kennis met ‘n kromknyperkrap. Ontmoet ‘n voor-in-die-koor skoolkoor, ‘n koperkoper wat koperknope koop en mevrou Matthee wat in haar teetyd TV kyk.
Wonder saam oor tarentaal taal en reier-eiers.
En help om ‘n seerowerskip skoon te skrop.

Jaco Jacobs se bekroonde kinderverse is gewild by skole, kunswedstryde – en veral op duisende Afrikaanse kinders se boekrakke, waar dit ‘n ereplek verdien. Hierdie splinternuwe versameling tongknopers en snelsêers sal sorg vir ure se lekkerlag-pret! Probeer gerus die volgende rympie blitsvinnig sê sonder om te struikel:

As ‘n kromknyperkrap in die klipkrip klim,
gaan ek ver van die krip wegbly.
Want as ek te na aan die klipkrip kom,
knyp die kromknyperkrap dalk vir my.

Oor die outeur:

Jaco Jacobs se bekroonde kinderverse bewys ongetwyfeld waarom hy een van die gewildste, veelsydigste en mees bekroonde kinderboekskrywers in Afrikaans is. Sy rympies wissel van verspotte lekkerlagpret tot heerlike grillerige versies wat jou tone sal laat omkrul van lekkerkry! Jaco het reeds meer as 100 boeke die lig laat sien, en meer as 650 000 kopieë van sy boeke is reeds verkoop. Afgesien van kinderboeke, skryf hy ook rubrieke, tydskrifartikels, ‘n kinderboekblog, en hy het reeds meer as 200 boeke in Afrikaans vertaal. Jaco het in die Karoo grootgeword, maar woon deesdae in Bloemfontein sa am met sy vrou, Elize, hul dogtertjies, Mia en Emma, en twee honde, Pippie en Binki.

Uitgewer: LAPA-Uitgewers
Prys: R79,99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Om “Jaco Jacobs” vinnig te sê kan alreeds ‘n tongknoper wees . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.