Boek: Oupa ontsnap

David Walliams

Baie jare gelede was Oupa ʼn bobaasvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog, maar sedertdien is hy na die ouetehuis Twilight Towers toe gestuur waar die onheilspellende matrone Swine die septer swaai. Oupa en sy kleinseun, Jack, moet ʼn waaghalsige plan beraam om te ontsnap. Min weet hulle dat die bose matrone hulle fyn dophou.

Oor die outeur

David Walliams het die kinderboekwêreld stormenderhand verower. Tans is hy die grootste Britse kinderboekouteur wat die afgelope dekade gedebuteer het. Sy boeke het sover meer as 40 miljoen eksemplare in die Verenigde Koninkryk alleen verkoop, en is sover in meer as 40 tale vertaal – Afrikaans ingesluit!

Mnr Stink, Die seun in die rok, Ouma is ’n kroek en Boudebiljoenêr is aangepas vir Britse televisie. Rotburger en Die tandeterroris albei die National Book Awards Children’s Book of the Year in Brittanje gewen. Dit is geen verrassing dat Walliams in dieselfde asem genoem word as sy held Roald Dahl nie.

Oor die illustreerders

Tony Ross is ‘n baie suksesvolle kinderboekillustreerder wat bekend is vir titels soos Harry the Poisonous Centipede deur Lynne Reid Banks, en die Little Wolf-reeks deur Ian Whybrow.

Quentin Blake is een van Brittanje se mees geliefde illustreerders en spotprenttekenaars. Hy is bes bekend vir sy samewerking met outeurs soos Roald Dahl, en sy illustrasies het verskeie pryse ingepalm, die Hans Christian Andersen-prys vir illustrasie ingesluit.

Oor die vertaler

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboek­vertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl. In 2015 het hy die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R225,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maggie ·

Ek het die Engelse weergawe vir my sesjarige seuntjie gelees.Dis baie vermaaklik en ons het albei gelag dat die trane loop met tye.As dit goed vertaal is,kan ek dit aanbeveel.Ons lees tans “The Midnight Gang”,wat net so oulik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.