Boek: Paul Kruger Toesprake en korrespondensie, 1881–1900

paul-kruger-toesprake-en-korrespondensie-voorbladPaul Kruger was ongetwyfeld een van die bekendste en invloedrykste persoonlikhede in suidelike Afrika teen die einde van die 19de eeu en het op verskillende terreine deurslaggewende bydraes gelewer. Mense wat na aan hom beweeg het en ʼn goeie oordeel in hierdie verband kon vel, bevestig dit. Generaal J.C. Smuts, wat as staatsprokureur onder Kruger gedien het, het kort na Kruger se afsterwe aan Emily Hobhouse geskryf: “He typified the Boer character both in its brighter and darker aspects and was no doubt the greatest man – both morrally and intellectually – which the Boer race has so far produced.”

Ten spyte van ʼn staatsadministrasie wat, veral na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand, al meer omvangryk en ingewikkeld geword het, het Kruger ʼn merkwaardige greep daarop behou en selfs nuwe staatkundige ontwikkelinge beplan en uitgevoer. Hy was, soms ten spyte van sterk teenstand, ten gunste van die konsessiestelsel om nywerhede binnelands te vestig en uit te bou. Sy beplanning en instelling van ʼn spoorwegverbinding met Delagoabaai het aangesluit by sy begeerte om die onafhanklikheid van die staat uit te bou.

Hy het jaarliks verskillende dele van die ZAR besoek om die bevolking in te lig oor die staatsadministrasie en beplanning. Dit was onder meer duidelik dat sy planne, om nouer saam te werk met Rooms-Katolieke mense en Jode, sommige burgers nie aangestaan het nie en dat hy oortuigingswerk daarvoor moes doen. Tydens sy gereelde besoeke aan die platteland het hy dikwels ook swart leiersfigure ontmoet en met hulle samesprekings gevoer. Sy beleid teenoor swart mense was waarskynlik dié van sy medeburgers vooruit.

Met die toenemende bedrywighede binnelands, van veral die Transvaal National Union en die Volksvereeniging, was Kruger grootliks voorbereid op die Jameson-inval van 1895–6. Die merkwaardige wyse waarop hy gedurende die oorlog in ʼn groot mate in beheer van algemene strategiese beplanning gebly het, kom na vore in sy uitgebreide telegramkorrespondensie met die boeregeneraals en president M.T. Steyn van die Vrystaat.

Paul Kruger Toesprake en korrespondensie, 1881–1899 probeer om die klem te plaas op Kruger se minder bekende briefwisseling en optredes om ʼn verteenwoordigende beeld van staatspresident Kruger se werksaamhede en standpunte te bied. Die teks is deeglik toegelig met ophelderende voetnote. Verder is ʼn algemene inleiding, agtergrondsinligting en ontleding verskaf by elke toepaslike breër tydperk in Kruger se lewe tot 1900.

Die beeld wat van Kruger na vore kom uit ʼn deeglike ontleding van veral sy minder bekende korrespondensie en toesprake, verskil dikwels ingrypend van dit wat oor ʼn lang tydperk in publikasies oor hom aangebied is. Hierdie publikasie vervul daarom ʼn belangrike behoefte. Dit stel die leser in staat om regstreeks deur die lees en bestudering van Kruger se standpunte tot eie en nuwe gevolgtrekkings te kom.

TITEL: Paul Kruger Toesprake en korrespondensie, 1881–1900
OUTEUR: Johan S. Bergh
GENRE: Geskiedenis
PRYS: R350.00
Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman G ·

Is die boek in Afrikaans of Nederlands? Hopelik is dit vertaal, want om ‘n boek te lees wat grootendeels Nederlands is, is moeilik.

elsja ·

Kan daar aan my verduidelik word waarom die boek so duur is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.