Boek: Pleks van plaas

Jerzy Koch

Jerzy Koch skryf in sy digbundel Pleks van plaas onder meer oor sy familiegeskiedenis in Pole, maar die grootste deel van die bundel word in beslag geneem deur verse oor Suid-Afrika. Indrukwekkend is veral die seegedigte. Dit is nie net die branders wat sy “oor vang en oorrompel” nie, maar ook die Afrikaanse taal. Selfs wanneer hy in Europa op die strand loop, verlang hy na Suid-Afrika:

hier
staan ek
op my strand
hier
stap ek
langs die ander see
en prewel gedigte
in ’n vreemde taal

(Uit “keerty 3”).

As teenpool van die Europese fisant skryf hy oor die hadida wat ”godsgruwelik skreeu” en hom aan Kaapstad en sy berg “vaspen”. Die fisant maak sy verskyning in ’n gedig opgedra aan Totius. Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde vergesel en volg hom dus soos ’n skaduwee, selfs al bevind hy hom in die Noordelike Halfrond.

In die afdeling “Literatuurgeskiedenis” staan talle gedigte opgedra aan Afrikaanse digters: Leipoldt, Opperman, Eybers, Blum, Kirsch, Van Wyk Louw, Breytenbach, Hambidge en natuurlik CM van den Heever, die skrywer van plaasromans.

Daar is ’n ontroerende gedig oor die dood van JC Kannemeyer wat as vriend en literatuurhistorikus ’n groot invloed op Koch uitgeoefen het. Een van die meevoerendste verse handel oor Abraham H de Vries.

Pleks van plaas is ’n versameling boeiende gedigte oor plekke (in Europa en Suid-Afrika) en verplasings. Dié verplasings behels uiteraard ook taalverplasings (Pools, Nederlands, Afrikaans), soos beleef deur die vertaler en meertalige digter Jerzy Koch.

Oor die skrywer

Koch is ʼn vertaler, digter, akademikus en hoof van die afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studie in die Fakulteit Engels van die A Mickiewicz-universiteit in Poznań, Pole. Hy gee veral klas in Nederlandse literatuur, koloniale literatuur en Afrikaans. Koch is ook die skrywer van ’n omvattende literatuurgeskiedenis oor Afrikaans. Hy besoek Suid-Afrika sedert 1992 gereeld en het die Afrikaanse taal sodanig sy eie gemaak dat hy dit vlot praat en gedigte daarin skryf.

Koch het onder meer die werk van Hugo Claus, J Bernlef, Herman de Coninck, Stefan Hertmans, Gerrit Kouwenaar, Lucebert, Harry Mulisch, Multatuli, Leonard Nolens, Paul Rodenko en Felix Timmermans vertaal. Vir sy vertaal-oeuvre het hy in die Lae Lande die Martinus Nijhoff-vertaalprys ontvang. Hy het ook verse van Ingrid Jonker (1993) vertaal en sy onlangse vertalings in Pools is bloemlesings uit Antjie Krog (2017) en Breyten Breytenbach (2018) se gedigte.

Genre: Poësie
Uitgewer: Naledi
Prys: R200,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Naledi. Die e-boek is ook by Amazon beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.