Boek: Porseleinskerwe

Helene Marié Blomerus

Vroeër vanjaar het Marié Blomerus, bekroonde digter en skrywer, se jeugherinneringe onder die titel Porseleinskerwe verskyn. Haar herinneringe, vlugtige indrukke en woordprentjies vorm ʼn geheel rondom enkele temas soos Namibië, die skrywer se aantreklike, eksentrieke familielede en haar jeug – tydstippe in haar lewe, sy dit in Namibië of Johannesburg, Pretoria of die Boland en haar reise na die vreemde.

Daar is onweerstaanbare beskrywings van plekke en name, lieflike prosa soos die volgende: “Byna net soos by David Livingstone is verkenning in Schmelen se bloed en hy skaf ʼn poenskop-os, ʼn geweer en ʼn velkaros aan. Sy klere raak deurgedra en hy begin sy klere van velle maak. Die karos gebruik hy bedags as saal vir die os en snags as ʼn kombers.”

Daar is fassinerende stukkies geskiedenis, woordbeelde van haar Oupa Suidwes, soos ʼn skraal koning in die veld, haar boheemse tannie Dora, haar mooie ma en ʼn familie wat saamsing en dans en graag lag. Haar humorsin, nuuskierigheid en talent vir verwondering is tydloos.

Oor die outeur

Helene Marié Blomerus is op 24 Desember 1931 in Keetmanshoop, Suidwes-Afrika (tans Namibië), gebore en het ook daar grootgeword. In die sestigerjare was sy saam met Phil du Plessis mederedakteur van die tydskrif Wurm en het sy bydraes gelewer tot verskeie tydskrifte soos Ophir, Izwe, Sestiger en die Tydskrif vir Letterkunde.

Sy het gereeld verhuis en op een of ander stadium in Namibië, die Kaapprovinsie, die Vrystaat en die Transvaal gewoon. Haar publikasies sluit in die digbundels Fosforblom in 1968 (Nasionale Boekhandel) en Blou as beginsel van duisternis in 1975 (Perskor), Soo-oo-oopwa: ‘n novelle in 1975 (Perskor), en die bundels Ithaka in 1985 (Perskor) en Seisoene van terreur in 1988 (Jutalit). Ithaka is met die Perskorprys bekroon.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R180-00*

*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae