Boek: Portrette in my gang

Portrette-in-my-gang-voorblad.jpgDolf van Niekerk

In Dolf van Niekerk se sesde digbundel kyk hy terug op mense, dinge en gebeurtenisse wat ’n betekenisvolle rol in sy lewe gespeel het. Die digbundel word as ’t ware ’n klein  galery van skilderye wat momente in die skrywer se lewe vasvang. Die openingsgedig “Vergange” bevat ’n sleutel: Die gedigte handel wesenlik oor daardie oomblikke wat huiwer tussen “aankoms en vertrek”, oomblikke waarin die tyd “saamvloei in die nou / se durende verlede.” Daarom dra die beroemdheid of uiterlike belangrikheid van die onderwerp nie gewig nie: Gedigte oor figure soos pous Julius II, Albert Schweitzer en Peter Blum staan naas gedigte oor die skrywer se moeder wat hy vroeg verloor het, oor sy vader, ’n stoere wildeseringboom en ’n gunsteling-posduif. Daar is ook gedigte oor magiese oomblikke, soos ’n besondere orkesuitvoering in Tel Aviv, ’n nag by die see en ’n oesdag in die Overberg wat herinner aan ’n Van Gogh-skildery.

Dit is ’n ontroerende bundel waarin die digter nie net sin uit sy eie lewe probeer maak nie, maar ook besin oor beskawing en by monde van Bartolomeus Dias “vermoed: / Afrika duld nie vreemde goed”.

Oor die outeur

Dolf van Niekerk is ’n bekende en geliefde skrywer van prosawerke soos Die son struikel (1960), Skrik kom huis toe (1968) en Die haasvanger (1985). Sy betrokkenheid by radiowerk het gelei tot talle radiopraatjies, hoorspele en vervolgverhale. Hy is meermale vir sy werk bekroon en het onder andere die Eugène Marais-prys, die M.E.R.-prys en die Scheepersprys ontvang.

Uitgewer: Protea Boekhuis 
Prys: R150.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.