Boek: Prettige feite-reeks

Dorling Kindersley

Hierdie reeks is spesiaal ontwikkel vir kinders van vyf jaar en ouer, en is die perfekte mengsel van opvoedkundige inhoud en eenvoudige, praktiese aktiwiteite soos handwerk, kookkuns en tel. Jong lesers leer meer oor ʼn erskeidenheid interessante onderwerpe en kry die geleentheid om prettige projekte aan te pak wat by die temas aansluit. Die eenvoudige aktiwiteite dra by tot die ontwikkeling van geletterdheid, syfergeletterdheid, geheueontwikkeling en handvaardigheid. Hou die kleinspan besig terwyl hulle speel-speel leer!

Daar is vyf hoogs versamelbare titels in die reeks:

Plaasdiere

Kuier ʼn dag lank op die plaas! Loer in by die perde en voer die hoenders. Kinders leer meer oor die lewe van plaasdiere en ontdek interessante feite oor die plaaslewe terwyl hulle verskillende handwerk-aktiwiteite, raaisels en leerspeletjies voltooi. Elke bladsy bevat helder foto’s met maklik verstaanbare teks en eenvoudige stap vir stap instruksies wat jong lesers kan volg om die projekte te voltooi. Die boek kombineer feite vir kinders met prettige aktiwiteite – die perfekte manier om lang somersdae deur te bring!

Haaie en ander seediere

Hierdie titel stel kinders aan die wonderwêreld onder die branders bekend deur middel van prettige, opvoedkundige aktiwiteite. Ontmoet oulike harlekynvisse, spelerige dolfyne, honger haaie en al hul ander seelewende maats in hierdie aktiwiteitsboek propvol wonderlike feite. Vind uit hoe om jou eie jellievisse te maak en ontwerp pragtige papierbord-harlekynvisse, terwyl jy die kleurvolste karakters in die see leer ken.

Goggas

Hierdie boek stel kinders aan inseklewe bekend deur middel van prettige, opvoedkundige aktiwiteite. Ontmoet besige bye, wriemelende wurms, oulike skilpadbesies en al hul goggavriende in hierdie aktiwiteitsboek propvol wonderlike feite. Maak jou eie pragtige skoenlappers, versier koekies, en tel insekte se pote, terwyl jy fantastiese feite oor goggas leer.

Wonders van die woud

Maak kennis met al die oulike diere en ongelooflike dinge in ʼn woud – van hasies tot bere en goggas – in hierdie opvoedkundige projekboek. Elke bladsy bevat asemrowende foto’s met maklik verstaanbare teks en eenvoudige stap vir stap instruksies wat jong lesers kan volg om elke projek te voltooi. Maak ʼn oulike dennebol-uil, ’n beermasker, heerlike bessie-ysies, en vele meer. Perfek vir kinders wat versot is op die buitelewe!

Van my kop tot my tone

Nuuskierige kinders kan ontdek waarom hulle ʼn sekere haar- of oogkleur het en waarom hulle ʼn  naeltjie het. Dan kan hulle ʼn oulike familiestamboom ontwerp, ’n stel papierlonge maak en kyk hoe dit werk, en kreatief raak met vingerafdrukke.

Hierdie boek is vol fantastiese feite en aktiwiteite wat by mekaar aansluit, ideaal vir jong slimkoppe wat meer oor die menslike liggaam wil leer. Jy kan selfs ontdek hoe jou liggaam inmekaarpas deur ʼn lewens-grootte buitelyn van jouself op papier na te trek!

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R120,00 elk*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.