Boek: Professor Fungus en die onsigbare skurk

Jaco Jacobs

Professor Fungus is besig met ʼn fantastiese nuwe uitvinding in sy laboratorium – en Bennie en Jenny kan nie wag om dit op die proef te stel nie.

Professor Fungus noem dit sy Vloeibare Energie-Reduserende Dubbel-Weerkaatsende Ydelheid-Neutraliseerder… of kortweg sommer net V.E.R.D.W.Y.N.

En die beste van als? Dit kan jou onsigbaar maak! Dit klink sommer na vet pret!

Maar dan kry ʼn skurk die formule in die hande – en Bennie en Jenny moet help om van die wêreld se kosbaarste juwele te probeer red …

Jong wetenskapliefhebbers (en almal wat mal is oor snaakse stories!) verslind Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks – en die ongelooflike illustrasies deur Johann Strauss sorg sommer vir dubbel die leespret! Elke storie is propvol fantastiese karakters en wilde, skreeusnaakse avonture. En by Einstein se snor, agterin elke boek is daar boonop ’n eksperiment wat jy tuis kan doen!

Oor die outeur

Jaco Jacobs is op Carnarvon in die Karoo gebore. Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 by LAPA verskyn, en sedertdien het meer as honderd boeke vir kleuters, kinders en tieners uit sy pen verskyn. Sy boeke is onder meer bekroon met die Alba Bouwerprys, die C.P. Hoogenhoutmedalje en 19 ATKV-Kinderboektoekennings. Talle van sy boeke word met groot sukses by skole voorgeskryf, en in 2014 is ʼn rolprentweergawe van sy gewilde tienerboek Suurlemoen! landwyd vrygestel. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, twee honde, Pippie en Binki, en ʼn baie stoute kantoorkat genaamd Lego wat sy bes probeer om Jaco uit die werk te hou. Besoek gerus sy webtuiste by www.jacojacobs.co.za.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R115,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

My jongste seun is absoluut mal oor die boekies!!! Ek gaan beslis die enetjie ook aankoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.