Boek: Pruimtwak en skaduboksers

pruimtwak

Danie Marais

Om sin te maak van die hele virtuele warboel in die 21ste eeu moet ’n mens hoog en laag soek. En dis presies wat die bekroonde digter en joernalis Danie Marais doen in Pruimtwak en skaduboksers – ’n onderhoudende versameling van rubrieke, essays, heildronke en nabetragtings wat met speelse erns en entoesiasme die verbande verken tussen boeke, die tydsgees, popkultuur en die verdwaasde gewone ou wat naweke in sy braaivleisvuur tuur. In hierdie stukke wonder Marais – soms sober, soms skertsend – wat geword het van rock ‘n’ roll, sy generasie X en randfigure soos Peter Blum. Alles en almal van Darth Vader, die Simpsons, Katy Perry, Bruce Springsteen, Fokofpolisiekar, die boeremusieklegende David de Lange en The Big Lebowski tot die agterryers van die Anglo-Boereoorlog praat saam in ’n bundel wat jou laat glimlag én dink.

Oor die outeur:
Danie Marais is op 30 Mei 1971 in Kimberley gebore. Hy matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Menlopark en in 1993 behaal hy ’n B.Com-graad met regsvakke aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke. In 2002, na nege jaar in die buiteland, het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Sy eerste digbundel, In die buitenste ruimte, verskyn in 2006 en word met die Eugène Marais-, Ingrid Jonker-, en UJ-debuutprys bekroon. In 2007 is hy uitgenooi na Poetry International in Rotterdam en het ook aan Poetry Africa 2007 in Durban deelgeneem. Hy is tans ’n vryskutjoernalis in Kaapstad.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R210-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.