Boek: ‘Rateltaai’ – Tinus van Staden

Tinus van Staden

In 2018 het die doodsengel drie keer aan die oudrugbyspeler Ethienne Reynecke se deur geklop. Hy het geweier om oop te maak – toe sy milt bars, toe hy ʼn beroerte gehad het en toe hy in die agterkop geskiet is. Boonop, ná ʼn egskeiding daardie jaar, het sy twee lieflingdogters na ʼn ander stad verhuis. Die noodlot het sy spraakvermoë gesteel en hom sy werk as kommentator by SuperSport gekos. Dit het hom, soos Reynecke dit stel, in ʼn pampoen verander. Maar het hy geweier om bes te gee. Dit was ʼn stryd om sy krag en woorde te herwin. Tussendeur moes hy pa wees vir jong dogters. Hulle en sy vriende het hom gehelp om ná elke hamerhou op te staan. Minder as twee jaar later, in Maart 2020, word Reynecke die Suid-Afrikaanse ligswaargewig-amateurkampioen in gemengde gevegskuns (MMA). Hierdie is die storie van hoe Ethienne Reynecke dit reggekry het om staande te bly en vas te klou aan hoop waar wanhoop ander sou meesleur.

In Rateltaai: Ethienne Reynecke se tragedie en triomf, wat met Reynecke se samewerking geskryf is, word ʼn boodskap van hoop en bemoediging tuisgebring. Die boek bied ook ʼn binneblik op die wêrelde van beroepsrugby en gemengde gevegkuns, en Reynecke en sielkundiges praat oor wat dit verg om die oorgangsfase van beroepsport na die lewe ná sport te maak. Bekendes uit die rugbywêreld deel ook hul herinneringe en indrukke. Dit sluit in John Smit, AJ Venter, Gcobani Bobo, Ernst Joubert, Roland Bernard, Anton van Zyl, Cobus Grobbelaar, en Eugene “Loffie” Eloff se verhale.

Oor die skrywer

Tinus van Staden is ’n Johannesburgse sportskrywer vir Netwerk24 en Rapport wat in Bloemfontein grootgeword het. Die hoogtepunt van sy loopbaan tot dusvêr was om die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2019 in Engeland en Wallis te kon bywoon, die Proteas se vertoning ten spyt.

Prys: R260,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.