Boek-resensie: Boerekos met ’n twist

Deur Louise Viljoen

As jy nou nog nie weet wie Annelien Pienaar is nie, stel jy heel duidelik nie in kosmaak en bak belang nie. Annelien is vinnig op pad om dié toonaangewende voedselwetenskaplike en -entrepreneur in die land te word. Nie net besit hierdie werkende ma en boervrou haar eie kookskool nie, maar sy is ook ’n ywerige blogger. Die reuse- sosiale aanhang wat sy op haar blog, BoereKosTwist, en gelyknamige Facebook-blad geniet, getuig daarvan dat Annelien goed weet dat Suid-Afrikaners se harte deur hulle mae loop. Sy kén kos en sy deel haar kennis en vernuf met ’n oorgawe wat bewondering afdwing.

In Boerekos met ’n twist deel Annelien 140 kwyllekker familieresepte van outentieke erfeniskos waarmee ons grootgeword het. Eie aan Annelien, gee sy vir elke huiskosresep ’n kinkel wat dit selfs meer onweerstaanbaar heerlik maak.

Sy heg groot waarde aan die eenvoud en eerlikheid van die voedsame smulresepte wat ons oumas en dié se grootjies al kokend en bakkend opgestel het, maar sy bring ’n bietjie 21ste eeuse magic na elke resep sonder om enigsins die karakter daarvan te skaad. Annelien bied aan die hedendaagse kosmaker en -eter gister se staatmakerresepte smaakvol bygewerk met vandag se gerief. Voedsame hartskos is nou binne die bereik van die besige kok of selfs groentjie in die kombuis.

Boerekos met ’n twist bevat veel meer as net ’n versameling smullekker nostalgiese resepte. Annelien deel kwistig raakvat-raad uit en vertel van kortpaaie en plaasvervangers – haar “resep met ’n les”-konsep wérk.

Hierdie trefferboek is ’n volledige gids tot die beplanning van maaltye. Dit bevat algemene bakinligting oor onder meer omskakelings, baktoerusting, kosteberekeninge, ens. Ek het veral die nuttige inligtingsbladsye baie leersaam gevind. Annelien verduidelik wat terme soos blansjeer, flambé en puree beteken. Sy verskaf die gaarmaaktye van vleis, gesels oor waarna om op te let wanneer dit by koek- en broodbak kom, gee raad oor deeg en ook die inlê van vars produkte. Van biltongmaak tot die beroking van vleis op die stoof – Annelien wys jou hoe! Die boek word afgesluit met ’n hoofstuk wat uitgewerkte spyskaarte bevat.

In Boerekos met ’n twist kan jy selfs leer hoe om jou eie geel plaasbotter te maak! Daar is die allerheerlikste soppe en souse, heilsame groente- en vleisgeregte, verleidelike nageregte, spoggerige gebak, skons en pasteie asook bottel en bêre spenstreffers. Ek is baie bly oor die talle vleislose geregte aangesien ek en manlief onlangs vegetariërs geword het en idees vir gesonde maaltye kort.

Annelien het duidelik baie tyd en moeite daaraan bestee om hierdie 224 bladsye resepteboek saam te stel. Hoe klink gemarineerde broccolislaai, spinasie-en-sampioen-soufflé, soetsuur nagmaalfrikkadelletjies, vis en uieringe in bierbeslag, Mev. Dominee se wortelkoek, pekanneuttert, outydse soetmosbeskuit, sinkplaatpad-fudge, rooiworsiesouttert, lamsvleis in aartappelpasteideeg en rum-en-karameltert vir jou? Dan praat ek nie eens van die toffiekaramelpoeding, droëperskeblatjang, pikante soetrissiesous en parmesaangegeurde olyfolie nie. As jy lief is vir baie lekker en gesond eet, is Annelien Pienaar se Boerekos met ’n twist net die boek vir jou. Die fotograwe, Myburgh du Plessis en Hanneri de Wet se pragfoto’s komplementeer die verskillende geregte en maak dat mens jou lippe byvoorbaat aflek.

Ek is versot op my kopie van Boerekos met ’n twist. Geen kombuis is volledig toegerus indien hierdie boek nie op ’n kombuisrak pryk nie. Dis ook die perfekte geskenk vir enigiemand wat lief is om in die kombuis te bak en te brou. Indien jy vanjaar slegs een resepteboek aanskaf, hoef jy nie verder te soek nie. Jy sal trots wees om hierdie weergalose versameling resepte te besit – dis ’n erfenisskat.

Die skrywer: Annelien Pienaar en haar wederhelf, Hanru, is pekanneutboere. Hulle is ook die eienaars van die gasteplaas Bos-en-Berg te Skeerpoort naby Hartbeespoort. Dis hier waar Annelien haar kosskool bedryf.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R330-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent en taalversorger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.