Boek-resensie: Schmetterling leer vlieg in ‘Vlerke vir almal’

Deur Marisha Hermann (15)

Vlerke vir almal (jeugfiksie) is ʼn emosionele boek wat baie lewenskwessies aanraak, maar veral boeliegedrag. Daar word ook onder andere aan depressie, aanranding, die stres van ʼn nuwe skool, die stres van skoolwerk, groepsdruk, sosiale media, verwerping en die stryd om aanvaar te word, geraak.

Vlerke vir almal is ʼn boek wat maklik lees, maar is nie geskik vir baie sensitiewe lesers nie.

In die boek sal jy jouself kan vergelyk met ʼn probleem in die samelewing en jy leer ook hoe om die probleem te hanteer. Dit bring jou tot die besef dat jy nie die enigste een is wat met die probleem worstel nie.

Aand na aand het ek lank wakker gebly en gedink oor wat volgende in die boek kan gebeur. Ek was saam met die karakters bekommerd, my hart het saam met hulle geklop en my kop wou net aanhou lees. Ek kon myself met een van die karakters identifiseer en saam met hulle alles ervaar. Dit het soms gevoel asof dit die werklikheid is. Ek moes myself keer om nie die boek in een aand klaar te lees nie, maar die lekker nog ʼn dag of wat te laat aanhou.

Oor die storie:

Dewald Myburgh (ook genoem Patat of Schmetterling), is ʼn seun wat nog op sy 17de verjaarsdag ʼn Spiderman-koek gekry het. Hy kan nie swem nie en sy droom is om eendag na Venesië toe te gaan. Dewald se gunsteling ‘band’ is VNV Nation en hy hou baie van Spur se ribbetjies. Ná ʼn tragiese gebeurtenis word Dewald in Gr. 11 na ʼn nuwe skool gestuur. Daar ontmoet hy vir Beesbal, Karlien en Nomaswazi. Dié vier begin ʼn geheime organisasie, Schmetterling, teen boelies. Die organisasie word binne ʼn paar dae baie gewild en begin internasionaal ook bekend raak. Die organisasie beland selfs in die koerant.

Dit is egter nie net die boelies wat vir Dewald pla nie. Daar is nóg probleme in sy lewe. Dié probleme is die oorsaak dat hy na ʼn nuwe skool toe moet gaan. Dit is die oorsaak dat mnr. Visser, die skoolsielkundige, drie keer per week op sy rooster staan. Dit is die oorsaak dat hy en Nicola nie meer prentjies uit die wolke kan maak nie. Sal Dewald ooit sy vlerke kan teruggroei en weer leer vlieg?

Marion Erskine, die skrywer, is deur die boelies, wat hom op skool geboelie het, geïnspireer om die boek te skryf. Hy bedank egter ook al hierdie boelies wat hom vandag ʼn sterker persoon gemaak het. Hy dra die boodskap oor dat alles met ʼn doel gebeur en dat jy sterker aan die anderkant sal uitkom.

Vlerke vir almal is geskryf deur Marion Erskine.
Uitgegee deur Human & Rousseau in 2017.
Prys: R155-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

  • Meer oor die skrywer:

Marisha Hermann is ʼn graad 9-leerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Haar stokperdjies is lees en skryf. Sy het ʼn liefde vir koor en sing in die Affies se Blou Engele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trisa Hugo ·

Mooi stukkie! Lekker om te sien die jonges neem boeke ernstig op.

Anoniem ·

Ter inligting: Schmetterling is die Duitse woord vir skoenlapper.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.