Boek-resensie: Ver in die wêreld, Kittie

Deur Louise Viljoen

Ek het Santie van der Merwe se Ver in die wêreld, Kittie proe-proe gelees. Deels omdat werksdruk my nie baie leestyd gegun het nie en deels omdat die boek so onder my vel ingekruip het dat ek moes asemskep tussen hoofstukke deur. Dit gebeur soms dat wanneer jy ʼn boek finaal toemaak, jy net wéét dat die karakters nog vir baie lank saam met jou sal wees – hulle sal soos ou vriende deel van jou bly en jy sal soms wonder hoe dit met hulle gaan.

Die storielyn van Ver in die wêreld, Kittie is op die oog af bedrieglik eenvoudig – ʼn bejaarde moeder oorleef ʼn tweede beroerte en haar jongste dogter moet van oorsee af terugkeer huis toe om haar te versorg. Kittie en haar ma, Gertruida, is egter uiteenlopende vroue en hulle sit beslis nie om dieselfde vuur nie. Het nog nooit. Geheime en spoke uit die verlede ry albei bloots. Omstandighede het hulle egter bymekaar gegooi en daar is nie vir een van hulle die moontlikheid op ontvlugting uit ʼn bykans ondraaglike situasie nie. Hulle kan nie anders as om hulleself, mekaar én die verlede te konfronteer nie.

Gertruida is vasgevang in ʼn stukkende lyf en kan skaars iets vir haarself doen. Nou moet haar jongste, aan wie sy geen toegeneentheid as kind bewys het nie, haar help om die toilet te besoek. Die wiel het gedraai en sy is afhanklik van Kittie. Kittie is vasgevang in die armoedige ou huisie waaruit sy so desperaat gevlug het om Katherine te word in Europa. Sy het geen keuse as om haar trots te sluk en haar pynlike onafhanklikheid prys te gee nie. Sy is immers verleë nadat haar kaartehuis oorsee inmekaar getuimel het. Kittie en Gertruida het mekaar nodig of hulle dit nou wil of nie.

Gertruida het ʼn spraakprobleem oorgehou van die beroerte en sukkel om te kommunikeer, maar haar gedagtes is helder en deur haar onthou kry die leser ʼn blik op die verlede. Kittie leer mettertyd dat dinge nie noodwendig is soos sy dit as kind onthou en ervaar het nie. Dat daar wel redes en oorsake was vir baie van die dinge wat gemaak het dat haar ma haar oënskynlik nie kon verdra nie. Daar het goed met hulle as gesin gebeur waarvan sy as kind onbewus van was, nie kon verstaan nie, en ook nie kon verhoed het nie.

Uiteindelik konfronteer Kittie vir Gertruida. “Hoekom, Ma?” wil sy weet. “Sê my net hoekom.” En Gertruida moet die dogter wat sy in ʼn stadium byna doodgeslaan het, in die oë kyk en vir die eerste keer ma staan vir die foute wat sy gemaak het. Haar antwoord is rou en eerlik, sonder pretensie of wegkruip. “Ek het opgef*k.” Net drie woordjies waarin ʼn leeftyd se onderdrukte emosies uiteindelik na die oppervlak gedwing word. In die eenvoud van woorde, hierdie ekonomiese manier van dinge sê soos dit is, lê die skrywer se sterk punt. Sy lê met groot deernis die sweer bloot sodat die pad na begrip, heling, vergifnis en aanvaarding tog moontlik begin lyk.

Ver in die wêreld, Kittie handel oor meer as net die wisselwerking tussen Kittie, Gertruida en Kittie se sibbe. Dis ʼn anderse, moderne liefdesverhaal met diepte. Kittie se lewe word byvoorbeeld blootgelê met gepaste lirieke uit bekende liedjies. As skrywer beskik Santie van der Merwe oor die seldsame vermoë om die ruimte waarin gewone vroue leef en funksioneer te ontgin met temas waarmee haar lesers kan identifiseer en wat hulle beslis affekteer. Al is die dinamika tussen haar karakters geloofwaardig is die storielyne heeltemal onvoorspelbaar, maar wel moontlik.

Die heerlikheid van Ver in die wêreld, Kittie lê vir my daarin dat beide Kittie en Gertruida ten spyte van alles, sterk vroue is wat nie skroom om vir hulle oorlewing te veg nie. Reeds daarin, in hulle innerlike krag, sien mens ook die weerloosheid en sagtheid van hul vrouwees raak.

Oor die outeur:

Santie van der Merwe is ’n tuisteskepper wat meer hou van lees as van afstof, en meer van skryf as van stryk. As jong tuisblyma van twee kinders steek sy voelers uit en publiseer ’n paar tydskrifverhale. Toe haar jongste kind universiteit toe is, skryf sy in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse wedstryd, en wen die tweede prys vir haar kortverhaal, ’n Dag in Junie. Dit was net genoeg motivering om haar hekelpen neer te sit en haar hand aan ’n liefdesroman te waag. Santie woon saam het haar man, seun, kat en hond in Centurion.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent en taalversorger.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Koop die boek by Graffiti Boeke
Prys: R240-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae