Boek: Reza de Wet: Die dramaturg as dromer – ’n huldiging

Hierdie publikasie is die sesde boek in ’n reeks wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee word. Dit bring hulde aan skrywers, digters en dramaturge wat met die Akademie se Hertzogprys vir letterkunde bekroon is en wat oor dekades Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde met hul werk verryk het.

Die Hertzogprys met sy meer as ’n eeu lange tradisie binne die bestel van literêre pryse is nie die hoogste in geldwaarde nie, maar die verwerwing daarvan het ’n besonderse prestige waarde en dit is ’n vlagskipprys in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld. Die reeks sluit publikasies in oor Adam Small, PG du Plessis, P20ieter Fourie en Breyten Breytenbach.

Reza de Wet: Die dramaturg as dromer bestaan uit twee dele. In die eerste gedeelte word ’n persoonlike blik op haar lewe en werk gegee. Herinneringe word deur Marietjie Coetsee, De Wet se Afrikaans-uitgewer, Marthinus Basson, haar jarelange regisseur, asook verskeie ander kollegas in die teaterbedryf gedeel. Die tweede deel bevat sewe nuwe akademiese hoofstukke wat elk bydra tot die bestaande korpus navorsing oor een van Suid-Afrika se belangrikste dramaturge van die 20ste eeu.

Hoewel die boek ʼn sterk akademiese invalshoek het, sal enigeen wat in die Suid-Afrikaanse drama- en teaterbedryf belangstel hierby aanklank vind.

Oor Reza de Wet

Reza de Wet se vroeë dood in 2012 het ’n groot leemte gelaat binne die Suid-Afrikaanse teatergemeenskap, maar ook in internasionale teaterkringe waar haar werk, veral in Engeland, gewild was. Sy was ’n gerekende aktrise en regisseur, maar word veral as dramaturg onthou. De Wet het talle dramas in Afrikaans en Engels geproduseer, self van haar werk vertaal, terwyl haar dramas ook in verskeie tale vertaal is. Sy is twee keer met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Hertzogprys vir drama bekroon en het ook talle ander literêre- en teaterpryse ontvang. Haar eiesoortige en unieke aanslag kan moeilik in enkele woorde soos magies, sprokiesagtig, misterieus, misties, grotesk en goties, vasgevat word. Die woord dromer kom die naaste daaraan om iets van haar bowêreldse persona te beskryf – een waarby meeste lesers en toeskouers aanklank gevind het.

Oor die redakteurs

Temple Hauptfleisch is ’n sosiolinguis, teaternavorser en dramaturg. Hy was oor die jare onder meer hoof van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Teaternavorsing (SESAT) by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), voorsitter van die Drama Departement by die Universiteit van Stellenbosch en medestigter en redakteur van die South African Theatre Journal. Hy was ná sy aftrede by US in 2011 emeritus-professor en die stigter, hoofredakteur en projekleier van die aanlyn ensiklopedie Encylopaedia for South African Theatre, Film, Media and Performance (ESAT).

Marisa Keuris is ’n professor in algemene literatuurwetenskap in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by Unisa. Haar navorsingswerk fokus op kontemporêre drama- en teaterstudie. Sy het in Afrikaans en Engels oor die werke van bekende Suid-Afrikaanse dramaturge gepubliseer, onder andere Reza de Wet, Yael Farber, Pieter Fourie, Athol Fugard, Harry Kalmer, Deon Opperman, Adam Small en Janet Suzman. Sy lei sedert 2012 die Suid-Afrikaanse drama- en teaterbewaringsprojek, wat ten doel het om groter bewuswording te skep vir die argivering van die Suid-Afrikaanse uitvoerende kunste.

Genre: Huldigingsbundel
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R200,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.