Boek: Romanza, hier is van die jongste liefdesverhale

Romanza, Lapa Uitgewers se versameling romantiese fiksie, vier vanjaar sy 15de bestaansjaar. Hier is van die nuutste leesstof wat nou op die rakke en aanlyn beskikbaar is.

Sonvanger

Narissa is ’n volbloedhippie. Sy is optimisties oor die lewe en het ’n wil van haar eie. Sy glo daarin dat ’n mens die lewe moet geniet en oomblikke van blydskap vir jouself moet skep. Sy gaan vir haar die son se lag op Springbok vang. Haar grootste irritasie op twee bene is Franz Lamont, meneer volg-die-regte-pyltjies, baie aantreklik, baie bitter, en hy ry ’n antieke, hippie-kombi met daisies op die deure soos sy nog altyd wou hê. Hy stem nie saam met haar lewensopvatting nie. Pret en plesier duur net vir ’n oomblik, en is van min waarde. Werk, reëls nakom en dinge reg doen, is belangriker, en die swaar tye van die lewe weeg ook swaarder.

Skrywer: Frenette van Wyk
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R240,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

Want hy praat tjoklits

Friede Tredoux het ’n slegte stel met ’n branderplankryer afgetrap. Hy’t nie gewerk nie en geen toekomsvisie gehad nie. Sy ontmoet toe vir Matthys Combrink op Philadelphia terwyl sy en Jody by Leah kuier. Hy bak brood by die plaaslike deli. Sy is ’n arbeidsterapeut op George en begin oefen vir ’n marathon. Tot haar verbasing is Matthys een Saterdagoggend ook daar. Daar is beslis allerhande vibrasies wanneer sy naby hom is, maar sien sy kans vir ’n man wat brood bak vir ’n lewe?

Skrywer: Elsa Winckler
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R95,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

Die onwillige strooimeisie

Zita vra die onmoontlike van Anja. Om haar strooimeisie te wees is een ding, maar om darem in haar vriendin se afwesigheid vir Alec, Zita se verloofde, te moet help met hulle troureëlings, is hopeloos te veel gevra. Wat Zita nie weet nie, is dat Anja ook haar hart op Alec verloor het. Alec is ’n werkolis wat die meeste van sy tyd op kantoor deurbring, maar Zita oortuig hom om Anja te help om hulle troue te reël terwyl sy vir nege maande Londen toe gaan. Hy stem teensinnig in, maar sou nooit kon raai tot watter uiteinde hierdie besluit sou lei nie.

Skrywer: Alma Carstens
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R95,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

Wat jy gee

Mieke Küsler is terug in die Laeveld ná drie jaar oorsee. Sy weet dat Migal Roos, haar oud-universiteitsvriend, ’n dokter in die stad is. Gelukkig hoef sy nie bang te wees om hom raak te loop nie. Hy het hulle vriendskap beëindig die aand voor sy op die vliegtuig geklim het met ’n vinnige en hartstogtelike soen. Sy het gehoop hy sal haar vra om by hom te bly, maar het nooit weer iets van hom gehoor nie. Die noodlot bring hulle bymekaar in die dokter se spreekkamer. Haar angstigheid om oor ’n paar dae saam met haar kêrel Nederland toe te gaan, raak al hoe meer ondraaglik noudat sy terug in Suid-Afrika en in Migal se teenwoordigheid is.

Skrywer: Karlien Badenhorst
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R95,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

Ter wille van Nina

Olivia droom baie aande van ’n sorgsame wonderlike man met blougroen oë. Sy kan die kleur van sy oë in haar drome uitmaak, maar nooit sy gesig nie. Toe haar pad met dié van Zak Brunner kruis, lyk sy oë vir haar só bekend, nes dié in haar drome, maar sy is oortuig Zak kan onmoontlik die man wees van wie sy droom. In haar drome voel sy altyd veilig en gekoester. Sy is nie bang vir die man nie en sy vertrou hom onvoorwaardelik. Maar Zak maak haar benoud en sy vertrou hom nie so ver as wat sy hom kan sien nie. Maar Olivia het ’n sagte plekkie vir Zak se dogtertjie, Nina, en ter wille van Nina begin sy tyd saam met Zak deurbring. Haar mening oor Zak verander mettertyd, en toe hy haar vra om met hom te trou, sodat hy voogskap oor Nina kan behou, oorweeg sy dit baie sterk. Sy wéét sy is lief vir Nina en sal amper enigiets doen om haar te beskerm, maar is dit genoeg rede om met Zak te trou?

Skrywer: Cheryl Rogers
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R95,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.