Boek: Russiese volksverhale in Afrikaans vertel

Iwan is die jongste en ook die luiste van drie seuns. Op ʼn dag stuur sy pa hom om takke in die woud te gaan afbreek en daar kom hy ʼn blinde man teë. Dié man sê vir hom dat hy eendag die tsaar van Rusland sal word. Al wat hy moet doen, is om op die bakoond in die huis te lê, net sonneblompitte te eet, en met niemand te praat nie… vir sewe jaar lank.

Die jare gaan verby en uiteindelik begin sy groot reis na die Witteberge, ʼn reis vol avontuur en gevare. Hy kom teen die bose Og te staan, kruis swaarde met die rower Batur en reken met ʼn heks af. So trek hy deur seisoene en landskappe, en telkens moet hy ʼn nuwe struikelblok op pad oorkom. Maar Iwan glo vas aan die voorspelling van die blinde man en hou voet by stuk. Sou die ou man die waarheid gepraat het?

Die avonture van Iwan is die Afrikaanse vertaling van Otfried Preussler se Die Abenteuer des starken Wanja. Dit is deur Amelia de Vaal in Afrikaans vertaal en dié vertaling het pas by Protea Boeke verskyn.

Oor die skrywer

Otfried Preussler is ʼn bekende en geliefde kinderboekskrywer in Duitsland. Sy boeke is reeds in 55 tale vertaal en meer as 50 miljoen eksemplare is wêreldwyd verkoop. Hy is in 1972 met die Duitse Jeugliteraatuurprys vir Krabat bekroon. Sy bekendste werke sluit in Krabat en Die rower Hotsenplots. Hy is in 2013 in die ouderdom van 90 dood.

Oor die vertaler

De Vaal het ʼn meestersgraad in Afrikaans met spesialisering in joernalistiek en vrouestudies aan die Universiteit van Pretoria behaal. Met kennis van Engels, Nederlands, Duits en Frans het sy ʼn wye letterkundige belangstellingsveld, maar haar gunsteling-genre as vertaler is fiksie en niefiksie vir kinders en jong tieners.

De Vaal se Afrikaanse vertaling van Wil Huygen en Rien Poortvliet se Het leven en werken van kabouters en Oproep van de kabouters (2010) is in 2012 met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Elsabé Steenberg-prys vir vertaalde kinderliteratuur bekroon. Dit het in Afrikaans verskyn as Die lewe en werke van kabouters en Die oproep van die kabouters.

Uitgewer: Protea Boeke
Prys: R250,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.