Boek: Sakkie Slakkie en ander stories

sakkie slakkie

Pierre Coetzee en Shân Fischer

Drie pragtige geïllustreerde stories om kinders te vermaak, terwyl hulle eerste konsepte leer en hul woordeskat ontwikkel.

Sakkie en Petri is vriende. Hulle het op die internet ontmoet.

Sakkie woon in ‘n groot koolkop aan die een kant van die groentetuin. Petri woon op ‘n slaaiblaar aan die ander kant van dieselfde tuin. Sakkie was nog nooit by Petri se huis nie en daarom besluit hy om vir sy vriend te gaan kuier. Dit neem Sakkie Slakkie ‘n hele jaar om die reis te voltooi en op pad ontmoet hy allerlei interessante insekvriende. Sakkie se avontuur leer kinders die maande van die jaar ken en van kleure, groente en insekte.

Arme Mox en Kat is gestrand op ‘n eiland . Hulle is sooooo honger ! Maandag vind hulle een piesangboom. Dinsdag vind hulle twee appelbome. Woensdag vind hulle drie lemoenbome. . . En so leer kinders die dae van die week opnoem, hoe om tot sewe te tel en die name van vrugte!

In die derde storie moet ‘n muisgesin uitvind wie genoeg asem het om Bennie se verjaarsdagkersies uit te blaas! Kinders sal hierdie humoristiese storie geniet , terwyl hulle die name van verskillende lede van ‘n familie leer ken.

Oor die outeur:
Pierre Coetzee het ’n B.Com Regte en LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria studeer. Daarna het hy besluit om die wêreld te sien en het gaan skoolgee in Taiwan, waar hy ook by kurrikulum-ontwikkeling betrokke kon raak. Hy het 12 jaar Taiwan gewoon en saam met sy vrou, wat van Hualien kom, hul eie skool gestig om jong kinders Engels te leer. Pierre ontwikkel sy eie materiaal om kinders effektief te leer en dit is hoe hy hierdie prettige en opvoedkundige stories geskep het. Pierre het drie kinders en is tans verbonde aan die UWK.

Shân Fischer het ‘n agtergrond in beide tradisionele en digitale kuns. Haar fokus was op karakterontwikkeling vir opvoedkundige kinderspeletjies , voordat sy twee jaar in Japan as ‘n vryskut- kunstenaar en Engelse onderwyser gaan werk het. Met haar terugkeer na Suid -Afrika het sy gewerk as ‘n agtergrond-kunstenaar vir Clockwork Zoo, ’n animasiekunstenaar vir die TV-reeks Caillou, asook Florrie’s Dragons vir Disney VK en ook verskeie mediese illustrasies aangepak. Sy is tans ’n vryskut- illustreerder in die boek-, animasie- en filmbedryf.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R140-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.