Boek: Saliger

Saliger.jpgDibi Breytenbach

Amalia Abrieu is ’n siniese aanklaer met ’n sterk sin vir geregtigheid. Sy spesialiseer in die vervolging van kinderverkragters. Sy weet die stelsel werk nie soos dit moet nie, maar sy probeer haar bes, al is dit moeilik. Haar beste, en enigste vriend, én minnaar is Hendrik, ’n oud-soldaat wat self as gevolg van dade uit sy verlede ’n draai by die Waarheids- en Versoeningskommissie gemaak het.

Een aand, na nóg ’n dag van, wat Amalia beskou as ongeregtighede in die hof, maak sy ’n onbesonne uitlating teenoor Hendrik. Skielik begin die verdagtes wie se sake sy in die hof hanteer, sterf. Amalia is geskok. Is Hendrik ’n moordenaar?

Terselfdertyd tref ’n tragedie ’n geliefde predikant in die klein dorpie. Die pastorie, met die dominee se vrou en kinders binne-in, brand af. Die vrou en kinders oorleef egter die brand en die dorp span saam om die gesin te help. Selfs Amalia gaan uit haar pad om die gesin, en in die besonder die predikant self, ter wille te wees.

Alles is egter nie soos dit op die oog af lyk nie. Dit blyk dat daar sinistere motiewe agter die brand sit, en met verdrag kom Amalia agter dat goed nie noodwendig goed is nie, en sleg nie noodwendig sleg nie, veral nie op klein dorpies nie.

Saliger is ’n roman wat handel oor goeie mense wat slegte dinge doen, en slegte mense wat goeie dinge doen, en hoe maklik dit is om die een met die ander te verwar. Wat meer is, die leser is tot op die einde vasgenael om te sien wie is goed of wie is nie.

Breytenbach het wyd gelees en haar vermoë om die leser te laat wonder is merkwaardig.

Dibi Breytenbach het eerstehandse kennis oor hóé die stelsel sy jong slagoffertjies hanteer. Hoewel daar baie hartseer en tragedie te vinde is in hierdie omgewing, verstom die kinders haar altyd met hulle deursettingsvermoë en vergewensgesindheid.

Saliger is ’n debuutroman wat afspeel teen die agtergrond van misdaad en vergelding, straf en vergifnis – die milieu waarin Dibi haar elke dag bevind. Mense wat lief is vir boeke soos Anchien Troskie se Dis ek, Anna en Die Staat teen Anna Bruwer sal dié boek geniet. Amalia Abrieu se dilemma is ook baie soortgelyk aan Thys Krige s’n in Waar boosheid broei en Plasenta. Wat Dibi Breytenbach egter regkry, is om die leser al hoe meer by die morele kwessies te betrek. Natuurlik is vergelding verkeerd, maar moet Amelia regtig altyd die regte ding doen?

Lees maar self en vind uit!

Uitgewer: LAPA-Uitgewers
Prys: R199,99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.